Local newsNews

Polisieduiker leef sy roeping uit

Om ’n polisieduiker te wees, is ’n roeping.

SECUNDA – Konst. Andries Lee (31) voel tuis in donker water en glo polisieduikers word gebore vir dié beroep.

Hy het op Secunda grootgeword en na skool sekuriteitswerk gedoen.

Hy het vanaf 2001 tot 2006 as ’n reservis vir die polisie gewerk en is in 2007 gekeur om na die Polisiekollege toe te gaan.

Konst. Lee het vir ses maande opleiding op Bishop in die Oos-Kaap gekry en het daarna vir ses maande in die aanklagkantoor op Secunda gewerk.

Die duikgogga het hom gebyt toe die polisie e-posse na die polisiestasies gestuur het om uit te vind wie daarin sou belangstel om ’n polisieduiker te word.

Dié polisieman het dadelik belang gestel en moes verskeie swemtoetse aflê om te kwalifiseer om ’n polisieduikkursus te doen.

Dié toetse het ingesluit dat hy 300m onder twee minute moes swem en 25m onder water met een asemteug.

“Ons moes met gewigte swem en ’n mens moet nogal fiks wees om dié toetse te doen,” het hy gesê.

Konst. Lee het uiteindelik ’n kursus van agt weke by die taakmag voltooi en as ’n polisiedduiker gekwalifiseer.

Hy moes ook ’n noodhulpkursus aflê en eksamen skryf.

Hy is tans die enigste polisieduiker in die omgewing en moet soms ver ry om op ander dorpte te gaan help soek na lyke in damme en riviere.

Hy wou nog altyd by die polisie werk en as hy nie duik nie, ondersoek hy onder andere myne vir die springstofeenheid.

Konst. Lee is ’n gekwalifiseerde bomtegnikus en het ook ’n onderwaterspingstofkursus gedoen.

Hy oefen gereeld saam met die ander 15 polisieduikers in Mpumalanga by Badgat, sowat 12km vanaf Badplaas.

Dié ou myngat is 54m diep en dus ’n goeie plek om te oefen.

Hy het al in Houtbaai in temperature van 10 grade C geduik.

In sy vrye tyd het konst. Lee altyd gemengde gevegskuns beoefen, maar hy wil nou ’n nuwe soort gevegskuns, naamlik Krav Maga, begin doen.

Een van die hoogtepunte in sy loopbaan was toe hy ’n kursus gedoen het waar hulle geleer het om uit ’n helikopter wat in die water geval het, te ontsnap.

Hy beskryf homself as ’n adrenalienverslaafde en geniet enige iets wat ’n mens se bloed vinniger laat pomp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button