Editor's choiceLocal newsNews

Standerton se gemeenskap het gestap vir hoop vir Kankerlyers

STANDERTON – Op een of ander stadium in ‘n mens se lewe gaan jy met kanker te doen kry, niemand vra daarvoor nie, dit kom onverwags oor jou pad. Dit is nie noodwendig dat jy self die siekte gaan kry nie, hoewel die waarskynlikheid bestaan. Kanker eis meer lewens as MIV en malaria saam, een …

STANDERTON – Op een of ander stadium in ‘n mens se lewe gaan jy met kanker te doen kry, niemand vra daarvoor nie, dit kom onverwags oor jou pad.
Dit is nie noodwendig dat jy self die siekte gaan kry nie, hoewel die waarskynlikheid bestaan.
Kanker eis meer lewens as MIV en malaria saam, een uit elke vier persone word met kanker gediagnoseer.
web 1
By die onlangse Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Relay for Life, het die gemeenskap nie net saamgestaan nie, hulle het saam gestap.
Mense wat die stryd teen kanker verloor het, is onthou en die wat nou die stryd stry, word bygestaan.
Die deurgaanse boodskap by die byeenkoms was om die lewe, wat die Here aan jou gegee het, in oorvloed te lewe.
Die rede waarom die Relay for Life deur die nag geloop word is, is dat na ‘n kankerdiagnose, dit voel asof die nag neergesak het, en met die son wat die volgende oggend weer opkom, is dit die teken van hoop, en die wete dat daar altyd iemand is wat omgee.
Kansa het sowat 400 permanente personeel, terwyl 4 000 vrywilligers die organisasie ondersteun.
“Sonder hierdie mense se hulp en bystand sou Kansa nie so goed kon funksioneer nie,” het me. Drice Rossouw, die Sentrale Sake-eenheid se Algemene Bestuurder, gesê.
Sy het ook gesê dat Kansa die enigste organisasie is wat R6 miljoen vir navorsing oor die siekte en voorkoming belê het.
“Ons sal nooit ophou veg totdat ‘n kuur gevind is nie.”
Sy het die Standerton Relay for Life se komitee vir hulle bydrae en die reëlings rondom die byeenkoms geprys.
“Ek is meer geïnspireer as wat ek kan inspireer,” het mnr. Flip Coetzer, voorsitter van die komitee, gesê.
Die ‘Survivors’ is mense in die Standerton gemeenskap met kanker of wat in remissie is, wat met ‘n ete voor hulle ‘victory lap’ om die rugbyveld van Hoërskool Standerton trakteer is.
Landsdienslede van Laerskool Kalie de Haas het saam met hulle die eerste rondte om die baan gestap.
Dit was met tye ‘n emosionele ervaring, waar trane vrylik oor die mense se wange gerol het en ‘n stilte oor die stappers gesak het wat dié onthou het wat die stryd verloor het.
Die luminaria-sakkies, wat ‘n ander atmosfeer gebring het toe die kerse daarin aangesteek is, het rondom die rugbyveld gestaan en elke flikkerende kersie het ‘n storie, sommige van hoop en oorwinning, ander van hartseer en verlange, vertel.
web 3
Die dapper oorwinnaars het met trots hul banier om die veld geneem en diegene langs die veld kon net met verwondering toekyk hoe mense nie gaan lê nie, maar opstaan en terugbaklei, nie net vir hulself nie, maar ook vir hulle familie, vriende en mede-lyers.
Dit is ‘n siekte wat niemand verstaan nie, maar daar is soveel mense wat omgee en bereid is om hulle tyd te gee om ander by te staan, dat dit nie ongesiens verbygaan nie.
Arno Jordaan, ‘n sanger is die Afrikaanse musiekkringe, het opgetree, wat deur die nag Standertonnners met sy sang bekoor en die voete laat jeuk het.
Plaaslike kunstenaars het ook opgetree as hy ‘n blaaskansie geneem het.
Ollie die singende nar, het die kleingoed met sy sang en toertjies vermaak en daar was ook springkastele om hulle besig te hou.
Die Legion Paintball Club het ‘n 22-skoot saluut, ter ere van kankerlyers, afgevuur.
Dit was ‘n aand van herinneringe, asook pret, waar mense bymekaar gekom het met een doel voor oë, naamlik om veg teen ‘n siekte wat geliefdes raak.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button