
Vanjaar was weer eens ’n jaar waarop ons as Hoogies met groot dankbaarheid kan terugkyk en besef hoe geseënd dié skool en gemeenskap is. Ons is bevoorreg om deel te wees van ’n skoolgemeenskap wat werklik omgee.
Die jaar was ook ’n jaar vol pret, met die “Hoogies got talent”, sowel as die sêr wat weer met groot entoesiasme aangebied is, het die sprankel in ons kinders weer duidelik na vore gekom.
Dit is wonderlik om die lewenslus en uitbundigheid waar te neem en daarmee saam te besef dat daar soveel dinge is wat die lewe die moeite werd maak.
Ons is altyd trots op ons kinders se prestasies, van debat, redenaars, atletiek, tot wintersport, krieket en tennis, op alle terreine het ons leerlinge voluit deelgeneem, pragtig presteer en dinge beleef wat nie in woorde omgesit kan word nie.
Al vier ons krieketspanne speel in die Gert Sibande-eindronde.
Twee van ons rugbyspanne is in uitspeelwedstryde betrokke.
Die O/14-netbalspan wen Mpumalanga en op die atletiekbaan presteer veral ons juniors uitstekend.
Baie kilometers is die afgelope jaar afgelê.
Ons is dankbaar teenoor ons ouers wat so betrokke is by hulle kinders.
Ouers wat altyd langs die veld is om aan te moedig, altyd daar is vir ondersteuning sodat ons almal saam die vreugde van sport en spangees kan geniet.
Op akademiese gebied is ons midde in die tegnologiese era.
Van ons klasse is vanjaar met interaktiewe borde en 14 proximas toegerus.
Die beplanning is om vroeg in 2014 nog interaktiewe borde te installeer.
Die mikpunt is om teen 2015 al die klasse van proximas en interaktiewe borde te voorsien.
In vandag se tye is skole afhanklik van individue en instansies wat help om geleenthede te bied vir elke kind.
Met die hulp van borge kon ons vanjaar groot dele van ons teerpad herstel, kon ons die rioolstelsel van die skool oordoen, is nuwe pype vir watervoorsiening aangelê en is die pawiljoene oorgeverf .
Baie dankie aan almal wat deel was van hierdie suksesse.
Mag elkeen goed uitrus en ’n geseënde Kerstyd ervaar.
Ons hoop is dat 2014 met dieselfde entoesiasme en dryfkrag aangedurf sal word.
Danie Grobler, hoof, Hoërskool Hoogenhout.



