CrimeLocal newsNews

Ma en dogter deur inbrekers gyselaar gehou

Ma het dogter se waarskuwing eers as ’n flou grap gesien totdat die vier mans kort op haar hakke by die deur ingestorm het.

BETHAL – ’n Ma en dogter wie se name weerhou word, is onlangs in die huis wat hulle buite Bethal huur, gyselaar gehou.

Die vier mans het glo ’n venster gebreek om toegang tot die huis te kry.

Die dogter was omstreeks 8nm in die kombuis besig om ’n peuselhappie aanmekaar te slaan toe een van vier mans wat gewapen was, die kombuis binnegestap het.

Hy het haar glo opdrag gegee om stil te bly, maar sy het na haar ma se kamer gehardloop om haar te waarsku.

Haar ma het haar waarskuwing eers as ’n flou grap gesien totdat die mans kort op die kind se hakke by die deur ingestorm het.

“Twee van die mans was gemaskerd.

“Die een het ons opdrag gegee om op die bed te sit, terwyl die ander begin het om die huis te deursoek vir goedere om te steel.

“Hulle het ons heeltyd gevra vir geld en het ons naderhand buite geneem en gedreig om ons dood te maak.

“My ma is ’n pensioenaris en het R10 000 onder die bed gebêre.”

Dit was nie lank voordat hulle die geld opgespoor het en alles omgekeer, gebreek of gesteel het nie.

Die mans wou weet aan wie die motor wat buite gestaan het behoort, waarop die dogter geantwoord het dat dit hare is.

“Hulle het ons weer in die huis laat ingaan en ons hande en voete vasgebind nadat ons vir bykans vier ure deur hulle geterroriseer is.

“Ons is gedreig met die dood indien ons die polisie sou kontak.”

Die mans het onder andere met die voertuig, twee televisies, selfone en die geld spore gemaak.

Kort nadat hulle gevlug het, het die ma en dogter hul losgewikkel en na die straat gehardloop om voertuie af te trek om vir hulp te vra.

Meeste motoriste het haar geïgnoreer totdat een gestop het.

Hy het ingestem dat sy sy foon gebruik om haar verloofde te skakel.

Dié het hulle na die polisiestasie geneem waar hulle ’n saak oopgemaak het.

Die Bethal polisie het die dogter ’n week na dié gebeure geskakel en gesê dat polisiebeamptes van Kriel haar voertuig met van die gesteelde goedere opgespoor het.

Die voertuig is egter erg beskadig en weens ’n beweerde misverstand is sy ingelig dat slegs die motor en geen ander goedere opgespoor is nie.

“Ons leef nou daagliks in vrees en die trauma is iets verskriklik,” het die dogter gesê.

“Ons is nou finansieel in die knyp en weet nie meer na wie toe om te draai nie.”

Indien mense inligting het wat die polisie kan help om die mans in hegtenis te neem, kan hulle konst. Mapule Tlou skakel by 082 891 5354.

Om dié gesin by te staan, skakel me. Bernadette van der Merwe by 084 054 8955.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button