LettersMunicipalNewsOpinion

Ongelukkig met raadslede

Mnr. Van Baalen, jy is wel nie ’n elektrisiën nie, maar weet jy, ek dink niemand het so ’n flou verskoning van jou verwag nie.

Met verwyssing na die berig “Bethallers trek petisie op” in die Ridge Times van 22 November.

Nadat ek dié berig gelees het, het ek in opstand gekom.

Mnre. Hannes van Baalen en Hein Badenhorst, julle is raadslede van die DA op Bethal omdat Bethallers vir julle gestem het.

Ons het geglo julle is daar vir ons as ons probleme ondervind, maar julle faal beslis die DA-ondersteuners op Bethal.

Mnr. Van Baalen, jy is wel nie ’n elektrisiën nie, maar weet jy, ek dink niemand het so ’n flou verskoning van jou verwag nie.

Ek het met die laaste kragonderbreking die munisipale oproepsentrum geskakel en dit was dieselfde verskoning toe ek die vrou vra of sy ons kan inlig oor wat die probleem is.

Ek het dit veel eerder van haar as van jou verwag.

Ons skakel nie iemand om te hoor of hulle elektrisiëns is nie, nee, ons wil weet wat die probleme is en wat daaromtrent gedoen gaan word.

Raai wat, ons weet julle is nie elektrisiëns nie, maar ons is moedeloos en klop aan julle deur vir hulp, maar dit blyk dis ’n toe deur.

Potchefstroom se munisipaliteit het ook swak dienste gelewer en glo my, hul dorp se agteruitgang was glad nie in die toestand waarin Bethal is nie.

Die DA het egter ingegryp om munisipale bestuurders onbevoeg te verklaar.

Hoewel hulle ’n stryd gehad het om hul doel te bereik, het hulle deurgedruk en met welslae oorwin.

Nou is my vraag aan Bethal se twee DA-raadslede, waarom sit júlle agteroor?

Wat doen julle om Bethal se probleme op te los?

Af en toe ’n berig of kommetaar in die koerant óf om voor verkiesing en registrasie sigbaar te wees, is beslis nie genoeg nie.

Nee, ons verwag méér as dit.

Dié berig se uitlatings deur mnr. Van Baalen het menige Bethallers rooi onder die kraag en gaan vir die DA ondersteuners verloor.

Ek het na die beriggewing tot die slotsom gekom – bly weg en stem reg!

Dus hoef ek ten minste niks van hulle te verwag nie.

Ek is steeds ’n groot DA-ondersteuner, maar terwyl dié twee kandidate verkiesbaar is, sal ek beslis nie in die munisipale verkiesing vir die DA stem nie.

Ek weet daar is baie Bethallers wat nét soos ek voel.

Die persone wat die petisie opgetrek het, het wel ondersteuning van DA-raadslede op Secunda gekry wat na hulle luister en wil help.

Tans is hulle besig om ’n nuusspan na Bethal te bring om aan almal daar buite die agteruitgang van Bethal en die onbevoegdheid van die Govan Mbeki Munisipaliteit te wys.

Ek is nie ’n politikus nie nee, maar ’n vegter vir die behoud van Bethal.

Bethallers, dié wat saam wil staan en die klein groepie wil ondersteun, stuur jul griewe en briewe aan die Ridge Times Bethal-kantoor.

Ek weet hulle sal dit hou sodat ons almal se klagtes bymekaar kan maak.

So kan ons ook jul ondersteuning vir die behoud van Bethal kry.

Ons sal dit dan Vrydag by die kantore kom afhaal.

Sanette Henning , Bethal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button