
Nadat ek berigte in die Ridge Times van 22 November gelees het, voel ek verraai.
In die Ridge Times uitgawe van 15 November, is gesê dat daar in die volgende uitgawe ’n uiteensetting gegee gaan word van hoe probleme herstel gaan word, maar ek kry net die berig van mnr. Henry Masango waar hy beweer net wanbetalers se krag is af.
Ag nee wat, dis bog!
Ons krag in Bethal word gereeld onderbreek en as die klagtelyn geskakel word, is die diens pateties.
Mnr Masango, ek en die meeste huiseienaars in Bethal betaal klokslag ons rekeninge, maar waarom as die wind waai, die weer opsteek ag en dan maar sommer net, is my krag gedurig af?
Sal baie graag ’n antwoord van u af wil hê.
Dan is my straat pikgiet donker in die aand al vir meer as sewe jaar.
Eers was die verskoning dat daar nie geld vir gloeilampe was nie, nóú word daar net gesê die munisipaliteit werk daaraan.
Geen probleem nie, maar hoe lank werk mens aan ’n sekere probleem, langer as ses jaar?
Ek betaal my erfbelasting en alle ander dienste en wat kry ek in ruil daarvoor, die ingange na die dorp se straatligte word eerste herstel, is hul dan al wie hul rekeninge betaal of is dit vir die gerief van alle koletrokke wat die paaie snags gebruik?
Bethal munisipaliteit is onbevoeg en dit is nie nodig om dit te bewys nie, dit spreek daarvan as ons na die slaggate, straatligte, foutiewe kragbokse, geen geld vir nuwe kragmeters of watermeters, hangende kragpale wat enige tyd kan omval, swak waterwerke, kragkabels op grond, die vullis area wat glad nie aan die standaarde van munisipale vullis areas voldoen nie en wat ook nie aan die omgewings standaarde soos deur die regering ingestel is voldoen nie, kyk.
Mnr Masango ek tree glad nie polities op as ek kla oor swak dienslewering nie, nee ek vra vir die diens waarvoor ek moet betaal.
Niemand betaal net en ontvang niks nie.
Ons kla ook nie net namens mense in die dorpsgebiede nie, nee eMzinoni raak net so erg geraak.
Ons kla ook namens hulle wat wel vir dienste betaal en swak dienste of geen diensste ontvang nie.
As ek my erfbelasting weerhou gaan die munisipaliteit my verseker dagvaar.
Waarom het mense wat die munisipaliteit geld skuld steeds krag?
Sny wanbetalers se krag af en vorder die geld in!
’n Paar jaar gelede is daar aan wanbetalers ’n keuse gegee om af te betaal, maar as jy R15 000 skuld en R250 afbetaal gaan dit jare neem om skuld in te vorder.
Geen munisipaliteit is bevoeg as dienste agteruit gaan of verswak nie.
Sanette Henning, Bethal.



