Local newsLocal sportNewsSport

Theo geniet 4x4s en buitelewe

Theo gaan binnekort geakkrediteerde 4x4 opleiding gee.

SECUNDA – Mnr. Theo Janse van Rensburg het al verskeie 4×4-bane uitgelê en leer 4×4-geesdriftiges hoe om hul voertuie beter te hanteer.

Hy wil 4×4 geesdriftiges graag meer in die veld kry en het onlangs ’n 4×4-dag gehou en self die roete op ’n plaas buite Kinross uitgewerk.

Omgewingsbewaring lê hom na aan die hart en dit is een van die eerste dinge waarna hy kyk as hy ’n nuwe 4×4-roete uitlê.

“As ons ’n roete uitlê, kom ons met die boer ooreen dat voertuie net op die roete sal bly omdat ons nie die omgewing wil versteur nie,” het mnr. Janse van Rensburg gesê.

“Die voël- en dierelewe is belangrik.”

Hy leer 4×4-geesdriftiges ook van die omgewing as hulle die roetes doen.

“Ek wys vir die kinders die gate waar die meerkatte in bly en leer hulle van mielies en skape ensovoorts,” het hy gesê.

Mnr. Janse van Rensburg het op Groblersdal grootgeword en het later na Bethal getrek waar hy by OTK gewerk het.

Hy is later na Nigel waar hy in verskeie afdelings van die munisipaliteit gewerk het, voordat hy na Germiston verplaas is.

“Ek onthou in 1976 toe ek daagliks vanaf Nigel na Germiston moes ry, die rook oor die woongebiede van die onluste wat daardie tyd plaasgevind het,” het mnr. Janse van Rensburg gesê.

Hy het in 1977 na Sasolburg verhuis waar hy vir Sasol begin werk het en was toe later deel van die groep wat Sasol se hoofkantoor in Johannesburg gevestig het, voordat hy in 1981 na Secunda getrek het.

Hy het lank in die menslike hulpbronne-afdeling gewerk en het gereeld personeel vir spanbousessies geneem.

“Dit was baie lekker, ek mis dit,” het hy gesê.

Hy is tans afgetree en hou hom met 4x4s besig en help sy vrou, me. Rika Janse van Rensburg met haar fotografie.

Tussendeur help hy ook sy twee seuns, mnre. Corne en Theodor Janse van Rensburg, by hul 4×4 onderneming op Secunda.

Die 4×4-gogga het hom gebyt toe hy in 1997 ’n Volkswagen Caravelle kombi verkoop en vir hom sy eerste 4×4 voertuig, ’n Landrover Defender, gekoop het.

Hy het met sy nuwe speelding begin toer en Namibië en Richtersveld in die Noord-Kaap was eerste op sy lysie.

“Die Defender het baie geraas en later vir my ongerieflik geraak en het het dit vir ’n Landrover Discovery ingeruil,” het hy gesê.

Hy het met dié voertuig ook deur Namibië getoer en het al verskeie groepe met hul 4x4s op toere geneem.

Hy het al spanningsvolle oomblikke tydens dié toere beleef toe sy voertuig een keer omgeval en op sy sy beland het.

“Ons het hom net weer regop getrek en verder gery,” het mnr. Janse van Rensburg gesê.

Hy het later sy Defender vir ’n Nissan Teranno bakkie ingeruil en nog later het hy dié bakkie vir ’n Colt dubbelkajuitbakkie waarmee hy al deur Botswana, Zimbabwe en Zambië getoer het, ingeruil.

Hy het verlede jaar vir mnr. Rudolph van der Merwe van die BMW-motorhandelaar gehelp om agt voertuie en 15 motorfietse op ’n toer na Botswana te neem.

Mnr. Janse van Rensburg het in 2004 en 2005 aan die 4×4 Eco Challenge-kompetisie deelgeneem en na die halfeindronde deurgedring.

Deelnemers moes op sandduine in die Kalahari en in Upington se wêreld hul vaardighede wys.

Die top 10 deelnemers het saam met die bekende 4×4-geesdriftige Gerhard Groenewald deelgeneem en was deel van sy program waartydens hy navorsing gedoen het.

Mnr. Janse van Rensburg het al tussen Nelspruit en Malelane ’n roete uitgewerk waar Groenewald oornag het en navorsers van die televisieprogram op SABC2 Groen het ook al dié roete gebruik.

Mnr. Janse van Rensburg wil volgende jaar meer opleiding gee en wil maandeliks ’n 4×4-dag organiseer.

“Van volgende jaar af moet 4×4-geesdriftiges sekere opleiding hê om van die 4×4-roetes te ry.

Die Auto 4×4 Adventure Fitment-sentrum sal dié opleiding aanbied.

“Ons wil mense toerus om dié roetes te kan ry,” het mnr. Janse van Rensburg gesê.

Hy geniet dit m saam met sy vrou te reis en foto’s te neem.

Mnr. Janse van Rensburg was deel van ’n groep wat die Olifantsrivier Forum wat vandag nog bestaan, gestig het.

Dié forum help om die Olifantsrivier te bewaar en dat dit minder besoedel word.

Hy is ook by die Gideons betrokke en help om Bybels te versprei.

Belangstellendes in 4×4 opleiding of enige iets te doen met ’n 4×4 kan mnr. Janse van Rensburg skakel by 082 467 1620.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button