Willem bewys hy is die beste
"Ek wil nog die groen en goud oor my kop trek"
STANDERTON – Drome kan waar word en Willem Martin is die bewys daarvan.
Dié jong man wat sy skoolloopbaan op Standerton voltooi het en steeds ‘n inwoner is, speel rugby vir die Middelburg Rugbyklub en is by die onlangse prysuitdeling as Speler van die Jaar in die Super-liga aangewys.
Die beskeie jong speler gee alle eer aan sy Vader, wat hom ‘gebless’ het met sy talent.
Sy toekoms lyk rooskleuring en die jong man hou nie op droom nie.
“Ek wil nog daardie groen en goud oor my kop trek,” het Willem gesê.
Hy is ook verlede jaar as die Bethal Rugbyklub se Speler van die Jaar in die Senior-liga aangewys.
In die Ibis van 28 Junie is berig oor Willem wat ook onlangs gekies is om vir die Pumas uit te draf.
Hy het op die ouderdom van 22 sy debuut in die Curriebeker gemaak.
Vir hom is dit belangrik om die mense in sy lewe vir hulle ondersteuning te bedank.
Hy het sy meisie, Rozanne van Deventer, wat elke naweek van Pretoria af ry om sy wedstryde by te woon en sy familie en skoonfamilie vir hulle bystand en opofferings bedank.



