Patrizia beste in dié geweste
B-afdeling wenner by die Suid-Afrikaanse Mid-Amateur Kampioenskap vir bo 35's wat onlangs by Graceland beslis is.
STANDERTON – Patrizia Lombard het die B-afdeling gewen by die Suid-Afrikaanse Mid-Amateur Kampioenskap vir bo 35’s wat onlangs by Graceland beslis is.
Sy was vir 30 jaar deel van die Standerton Buiteklub en het onlangs ook by die Ermelo Gholfklub aangesluit.
Sy is dadelik in hulle liga-span opgeneem en is eerste op die ranglys vir Mpumalanga-suid.
Vir dié rede speel sy in die Mpumalanga Intersone Kampioenskap.
Op die eerste dag van die kompetisie het Louise van Niekerk van Grens uitgestyg in die B-afdeling vir die 10 tot 18 voorgee.
Van Niekerk het geopen met ‘n nege oor 81 om klaar te maak met vier houe voor Michelle Holt van Vrystaat en Noord-Kaap en ses voor Lombard van Mpumalanga.
Op die tweede dag was sy twee houe agter, met die 91 wat sy aangeteken het.

Op die derde dag het sy die gesamentlike oornagvoorlopers, René Matthee en Van Niekerk, onverhoeds betrap en die B-Afdeling, met drie houe vir ‘n totaal van 261, beklink.
In die eerste ronde het sy 87, tweede ronde 91 en derde ronde 83, met ‘n voorgee van 12, aangeteken.
“Dit was daardie drie dae ongelooflik warm, maar die gholf was fantasties,” het Lombard gesê.
Haar ouers, me. Rosa en mnr. Aldo Arnaldi, was ook daar om die prestasie saam met haar te geniet.
“Dit was wonderlik om van die baan te stap en my telefoon aan te sit, almal het teen daardie tyd reeds geweet ek het gewen,” het Lombard ook gesê.
Met die tellings wat op die webtuiste beskikbaar was, kon almal haar vordering volg.
Volgens me Sarie Fourie, President van Vroue Gholf in Mpumalanga, is die unie trots op haar en is dit ‘n groot eer dat sy die titel na Mpumalanga gebring het.
Sy het ook gesê dat daar verseker ‘n toekoms vir vroue-gholf in die provinsie is. Volgens Lombard se pa is hulle, as ouers, baie trots op haar.
Hy het vertel dat sy as agtjarige dogtertjie saam met hom gholfbaan toe gegaan het en kennis gemaak het met gholf deur die sak rond te dra.
Later het hy haar touwys gemaak en geleer om die bal te moker, en vandag is sy ‘n kranige gholfspeler.



