Avontuurlustiges geniet 4×4-dag
Mense geniet uitdagings wat 4x4-dag op Kinross bied.
KINROSS – Mense het met bykans 10 voertuie op Saterdag, 1 Desember aan ’n 4×4-dag wat deur mnr. Theo Janse van Rensburg van die 4×4 Fitment Alignmentsentrum aangebied is op ’n plaas buite Kinross, deelgeneem.
Mnr. Janse van Rensburg wat die roete uitgelê het, het seker gemaak dat daar genoeg hindernisse en uitdagings vir almal is.
Die 4×4-ryers moes onder andere steil bulte aanpak, deur water ry en oor hobbels en klippe ry.
Voertuie het twee maal vasgesit en mans kon toe hul vaardighede wys om te help om die voertuie weer uit te kry.
Van die vroue was ook heel behendig met die bestuur van die 4×4-voertuie en het ook van die hindernisse aangedurf.
Deelnemers het deur plase gery en kon die natuurlewe geniet terwyl hulle aan dié uitdaging deelgeneem het.
“As jy nie die eerste keer oor ’n bult kom nie, laat net die voertuig agteruitloop en probeer weer,” het mnr. Janse van Rensburg gesê.
Hy beplan om vanaf volgende jaar maandeliks ’n 4×4-dag te hou.




