MunicipalNews

Inwoners beraam self planne

BETHAL – Plotbewoners het eindelik na bykans twee maande se gesukkel met ontoeganklike paaie, weer toegang tot hul huise. Die sluise was omtrent oop en verskeie paaie in en rondom Bethal het onder die kragtige waters meegegee toe ’n vloed en onophoudelike reënval Bethal getref het. Plotbewoners het naderhand by die munisipaliteit om hulp gesoebat …

BETHAL – Plotbewoners het eindelik na bykans twee maande se gesukkel met ontoeganklike paaie, weer toegang tot hul huise.

Die sluise was omtrent oop en verskeie paaie in en rondom Bethal het onder die kragtige waters meegegee toe ’n vloed en onophoudelike reënval Bethal getref het.

Plotbewoners het naderhand by die munisipaliteit om hulp gesoebat omdat hulle nie weens die toestand van paaie by hul huise in en uit kon gaan nie, maar antwoord het eers op 2 Januarie gekom.

Inwoners het intussen privaat kontrakteurs duisende rande betaal om stene aan te ry en die pad gelyk te skraap as ’n tydelike oplossing.

Volgens ’n inwoners het plotbewoners in dié gebiede elk bykans ’n duisend rand aan stene en arbeid bestee.

Dit is onseker of die kontrakteurs wat op 2 Januarie werk verrig het, privaat was of deur die munisipaliteit gestuur is om die instandhouding te doen, maar volgens ’n inwoner was munisipale werkers ook op die toneel.

“Ons is regtig dankbaar vir al die mense wat ons bygestaan het en dié wat met die koste gehelp het,” het mnr. Jan van der Walt gesê.

’n Ander inwoner het gesê dat hy ook dankbaar is, maar dat die munisipaliteit nie goeie werk gehandhaaf het nie.

“Ek moet jaarliks die inry na my huis toe laat sak omdat die munisipaliteit net die paaie skraap en nooit ekstra lae sand op die pad gooi nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat ons twee maande vir die munisipaliteit moes wag en dat inwoners en privaat mense die werk self moes begin doen.”

Mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê: “Die meeste van ons paaie is in ’n swak toestand wat deur die afgelope maande se swaar reën vererger is.

“Geen behoorlike onderhoud kon weens die klammigheid van die grond uitgevoer word nie.

“Daar is vir die Departement van Openbare Werke ’n sperdatum, naamlik 30 Junie, gegee om alle padinstandhoudingsprojekte te sluit.

“Die toestand van die genoemde straat is onder hul aandag gebring en sal binnekort herstel word.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button