Local newsNews

Vuurwerke veroorsaak chaos

“Dit is belaglik, daar is mos ’n wet teen die gebruik van vuurwerke, maar dit wil voorkom of dit nie vir Bethal geld nie.”

BETHAL – Die skiet van vuurwerke het weer hoogty gevier.

Inwoners het hul ontevredenheid op die sosiale netwerke bekend gemaak.

Me. Sanette Henning het gesê: “Ek het die polisie geskakel en konst. Nkosi en konst. Skosana het gemeen hulle weet nie wat om in verband met die vuurwerke te doen nie.

“Hulle het my toe verwys na die stasiebevelvoerder en my telefonies probeer deurskakel.

“Na ’n lang gewag is ek meegedeel dat hy besig was.

“Dit is belaglik, daar is mos ’n wet teen die gebruik van vuurwerke, maar dit wil voorkom of dit nie vir Bethal geld nie.

“Ek het selfs straatname verskaf, maar geen samewerking van die polisie gekry nie.”

Volgens haar woon daar polisielede rondom haar huis en hul eie honde het weens die vuurwerke verskrik geraak en begin baklei.

“Die man het uitgekom en die bakleiery stopgesit en nie eers die moeite gedoen om iets omtrent die saak te doen nie.

“Ek het só gehoop hy skakel die polisie en kry dalk reaksie, maar nee, hy was seker maar van diens af.

“Ek weet nie meer wat is die ergste nie, mense wat die vuurwerke afskiet in bewoonde gebied sonder permitte of passiewe polisielede.

“Waarom word vuurwerkverkope nie op Bethal gestop nie?”

Konst. Mapule Tlou, woordvoerder van die Bethal Polisiestasie, was met verlof en inligting kon nie teen druktyd verkry word nie.

’n Opvolgberig sal volgende week gepubliseer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button