Local newsLocal sportNewsSport

Marisa oorleef kamp

Avontuurlustige vrou gaan op oorlewingskamp in Zimbabwe.

SECUNDA – Om mopaniewurms, erdwurms en ’n rooibok se geslagsdele te eet, was geen probleem vir Marisa Smith (34) nie.

Sy is die enigste Suid-Afrikaner wat nie deel van ’n mediaspan was nie, wat gekies is om aan die bekende Britse avonturier, skrywer en televisie-aanbieder, Bear Grylls, se oorlewingsakademie by die Victoria-watervalle in Zimbabwe deel te neem.

Haar droom om aan een van Grylls se oorlewingskampe deel te neem, het begin toe sy eendag in ’n boekwinkel vir inspirerende boeke rondgekyk het.

Haar oog het op Grylls se boek Mud, Sweat and Tears geval.

“Dit het dadelik aanklank by my gevind omdat die Warrior-wedlope waaraan ek heeljaar deelgeneem het, dieselfde titel het,” het sy gesê.

Smith het later in ’n winkel gesien dat Grylls ’n kompetisie aanbied waarvan die eerste prys die geleentheid was om aan een van sy oorlewingskampe in Skotland deel te neen.

Sy het dadelik ingeskryf en het wel nie die prys Skotand toe gewen nie, maar is gekies om aan Grylls se oorlewingskamp in die Victria-watervalle deel te neem.

Sy het voor die kamp op ’n streng ontgiftingsdieet gegaan as deel van haar voorbereiding.

“Die kamp was fisies baie uitdagend.

“Ons moes abseiling doen en kranse uitklim, witriviervlotvaart op die magtige Zambezirivier doen en vroeë-oggend bootcampsessies bywoon.

“Dit het deursettingsvermoë gekos.”

Die deelnemers het nie tente gekry om in te slaap nie en moes self skuilings bou, vuurmaak sonder vuurhoutjies, kos soek en water suiwer.

Hulle het ook geleer hoe om strikke te stel en om na die sterre te kyk om rigting te bepaal.

Die hoogtepunt vir Smith was toe haar begeerte om van kleins af in ’n helikopter te vlieg, vervul is.

“Ons het eers gedink die instrukteurs skep ’n oorlewingssituasie toe hulle ons opdrag gegee het om ’n groot SOS-teken met klippe te pak en ’n seinvuur te maak wat sigbaar sou wees vir ’n reddingspoging.

“Ons was oorweldig toe ons die gedreun van twee reddingshelikopters gehoor het wat ons opgelaai en vir ’n rit van 30 minute oor die Victoria-watervalle geneem het.

“Die helikopter het ons toe ook na ons basiskamp teruggeneem.

“Dit was asemrowend en ’n groot voorreg.”

Smith het op skool tennis gespeel en aan atletiek deelgeneem, maar het na skool in 1999 geen sport beoefen nie.

“’n Mens verloor soms stukke van jouself in die rol wat jy speel as vrou en ma.”

Sy het gewonder wat sy op 34 kon doen om weer te begin leef omdat Grylls op 23 die jongste Brit was wat nog ooit die berg Everest se piek bereik het.

“Dit het my vasberade gemaak om meer waarde tot myself te voeg en ek het besluit om die eerste stap te neem en dit was om te begin oefen en ’n gesonder leefstyl te begin lei.”

Sy en ’n vriendin het verlede jaar begin stap en later by Sasol Bootcamp aangesluit.

Tussen die Warrior-wedlope waarop sy tans fokus en Krav-Maga, ’n gevegskuns- en selfverdedigingsklas, is sy steeds in die proses om haarself te verryk.

Sy het verede jaar aan vyf Warrior-wedlope deelgeneem en beplan om vanjaar aan die volgende moeiliker fase van dié wedlope deel te neem.

Warrior-wedlope bestaan uit ’n hindernisbaan en deelnemers moet oor allerlei hindernisse klim, deur modderbaddens gaan en sekere afstande draf om die wedloop te voltooi.

Sy berei ook tans voor vir ’n avontuurresies wat in April in Johannesburg plaasvind.

Smith is getroud met Avon Smith en die egpaar het drie kinders.

Sy hou daarvan om mense te motiveer en het vroue aangemoedig om nooit hul drome op te gee nie.

“Ek het só gegroei op die oorlewingskamp en met die Warrior-wedlope en het besluit dit kan nie daar ophou nie.”

“Ek gaan vir seker nog berg Kilimanjaro uitklim en ek wil families aanmoedig om weer net saam met die kinders op die gras te gaan stoei, om saam na sonsondergange te kyk, modderkoekies te bak en gehalte-tyd saam te bestee, want sulke tye kan geen geld koop nie.”

Grylls se oorlewingsprogramme is op kanaal 121 op DSTV te sien.

Smith het belangstellendes wat meer inligting oor Grylls se oorlewingskampe wil hê, genooi om haar te skakel of om Grylls se bladsy op Facebook te besoek.

Skakel haar by 073 305 074.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button