
Ek wil julle graag vertel wat dit is om in ’n gekkeparadys te lewe.
Ek was een van die eerste lede van ’n bekende sekuriteitsmaatskappy op Bethal en is steeds ’n lid.
’n Inbreker het toegang tot ons huis verkry op Sondag, 2 Februarie, om 9.45vm.
Ek het daarin geslaag om die paniekknoppie van die alarm twee maal te druk, voordat die inbreker dit uit die muur geruk het.
Ek en my man is deur die inbreker gemartel en verneder.
Ons het deur God se genade oorleef.
Ons bure het eerste tot ons hulp gekom .
Die sekuriteitsmaatskappy het eers Maandag gehoor van ons trauma nadat ons hulle dringend ontbied het.
Die mede-eienaar het my dogter eers Dinsdag besoek.
Die verslag van hulle diens is soos volg :
Hulle het twee seine van die paniekalarm ontvang.
Hulle het die huisnommer geskakel , maar die huistelefoon se drade was gekip.
Hulle het toe die selfoon geskakel wat die inbreker dadelik van my afgeneem het..
Die reaksie-span is uitgestuur en hulle was te bang om oor die hekkies te klim, want die twee foksterriërs het baie geblaf.
Hulle het toe 10 minute voor die hek gesit , teruggegaan en die paniekalarm gekanselleer by die beheerkamer.
Ons mediese kostes beloop tans duisende rande .
Die enigste reaksie van die sekuriteitsmaatskappy is dat hulle jammer is oor ons teëspoed.
Ons fisiese wonde en breuke sal littekens laat, maar geestelik bly dit soos ’n agressiewe kanker .
Wat ’n rustige oudag moes wees, het ontaard in ’n dag van haat en vrees .
Vra jouself af hoe sal jou sekuriteitsmaatskappy optree in so ’n geval?
Voldoen hulle aan die standaarde en opleiding soos voorgeskryf deur TSIRA?
Santjie Espach, Bethal.