SECUNDA – Sharne Smit (14) se danstalent bied haar die geleentheid om in Desember na Poland te reis om daar te gaan dans.
Sy sal deel wees van die Suid-Afrikaanse span en gaan aan die IDO Wêreld Danskampioenskappe deelneem.
Sy het op die ouderdom van vier in dans en akrobatiek begin belangstel.
Sharne was 10 jaar oud toe sy moderne danse begin doen het en is as die beste junior danser in haar skool aangewys.
Sy het al verskeie dansprestasies behaal en was onder andere die beste in die uitvoerende kunste-afdeling van die Eisteddfodkompetisie en is as die kultuurweekwenner tydens haar skool se gala-aand aangewys.
Van haar ander stokperdjies sluit ballet en hip hop-danse in.
Sharne blink nie net in dans uit nie, maar ook op die akademiese en kultuurgebied en het al erekleure vir akademie en kultuur gekry.
Haar afrigter is die akrobaat en danser Bradley Dreyer wat al in Afrikaans is Groot en As Jy Sing opgetree het.
Sharne het haar dansstyl as dieselfde as Dreyer s’n beskryf.
Haar ouers, mnr. Martin en me. Madré Smit, het eers op Kriel gewoon en vyf jaar gelede na Pretoria getrek.
Haar grootouers, mnr. Nico en me. Martie Scriven, is baie trots op hul kleindogter en het haar alles van die beste toegewens.
“Dit is vir ons ’n groot prestasie dat sy gekies is, want sy het al twee keer probeer en is nie vir die span gekies nie,” het me. Scriven gesê.
“Dit is nou die derde jaar wat sy vir die oudisie gegaan het en sy het dit gekry.
“Ons het dit ’n gebedsaak gemaak.”
Sharne benodig borge om die reis na Poland vir haar moontlik te maak.
Skakel me. Scriven by 083 272 6319.



