SECUNDA – Teksa Bloeddiens het onlangs nuwe lede vir hul skenkerskomitee gekies.
Hulle is me. Zinta Gersbach en mnr. Johny Swarts.
Die doel van die skenkerskomitee is om nuwe skenkers te werf en ’n rol in die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) se bedryfstrukture te speel.
Die skenkerskomitee se aktiwiteite sluit in om die SANBS te bemark, om ’n groep ingeligte, gemotiveerde en vrywillige bloedskenkers te vestig wat genoeg veilige bloed sal verskaf en om ’n geskikte en ondersteunende verhouding met die tak- en sonebestuurder te vestig.
Dié komiteelede werk ook vrywillig by bloedskenkklinieke en help met die organisasie van nuwe klinieke, hulle bevorder SANBS se beeld, bring probleme in verband met skenkersverhoudings onder die SANBS se aandag, gee idees vir die verbetering van bloedinsamelingsaktiwiteite en tree as gassprekers by funksies en medaljeplegtighede op.



