LettersLocal newsNewsOpinion

Vragmotors verwoes sypaadjie

Inligting oor sypaadjie is blykbaar verkeerd.

’n Plaaslike hardewarewinkel is tans besig met woonkompleksontwikkeling in Langkloofstraat in Sunsetpark op Secunda.

Die vragmotors wat die bakstene kom aflaai, ry net eenvoudig oor die sypaadjie voor my huis en vernietig die hele sypaadjie en grasperk.

Toe ek een oggend met die vragmotorbestuurder daaroor gepraat het, het hy eenvoudig vir my gesê: “Dit is nie jou grond nie,” en omgedraai, sy middelvinger vir my gewys en in sy vragmotor geklim en gery.

Die grond is wel nie myne nie en behoort aan die munisipaliteit.

Daarom daag ek dan die munisipaliteit, as die eienaar, uit om iets hieraan te doen.

Ek, as eienaar en belastingbetaler, het die gras op die sypaadjie op my eie onkoste versorg.

Ek betaal weekliks my tuindienste om die gras op die sypaadjie te sny en netjies te hou.

Ek betaal die water om daardie gras mee nat te maak en mooi te hou.

Ek betaal ook my belasting aan die raad.

Ek het ten duurste betaal vir ’n vrag grond (top soil) om op die sypaadjie afgelewer te word sodat ek dit weer, op my eie onkoste, kan rehabiliteer, maar die vragmotors het eenvoudig oor die hoop grond gery.

Grond waarvoor ek betaal het.

Hierdie gedeelte van die sypaadjie was altyd die mooiste gedeelte in Langkloofstraat.

Ek is tans besig om my huis te verfraai, maar nou lyk dit so lelik voor my huis.

Net omdat dit ’n groot hardewarewinkel is, kan hulle maar ons sypaadjies vernietig en dink hulle kan maak wat hulle wil?

Wie gaan die sypaadjie weer herstel sodat dit weer lyk soos wat dit gelyk het voor die gemors?

Daar is tog sekerlik ’n plaaslike outiriteit of iets wat swaar voertuie of enige voertuie verbied om op sypaadjies te ry?

Ek daag die raad uit om dit te kom toepas.

Hulle ry net eenvoudig oor alles en het ook al die bome voor my huis erg beskadig.

Wat gaan die munisipaliteit hieromtrent doen?

Of gaan ek weer net lees dat so en so teen druktyd nog nie beskikbaar was vir kommentaar nie?

As ek die toerusting gehad het, het ek reuse rotse op dié deel van die sypaadjie afgelaai.

Wouter Cronje, Secunda.

(Die Ridge Times het mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit om kommentaar gevra, maar hy het teen druktyd nog nie gereageer nie. ’n Werknemer van die hardewarewinkel het gesê dat die inligting vals en verkeerd is.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button