Bekende kunstenaars tree by fees op
Organiseerders nooi almal na Swartgoudfees op Kriel.
KRIEL – Die 21ste Swartgoudfees vind op 6 en 7 Junie by die Laerskool Krielpark se sportterrein plaas.
Dié fees is vir die eerste keer in 1994 op Kriel gehou
Verskeie kunstenaars soos Dewald Wasserfall, Ampie du Preez, Ricus Nel en MWAH gaan feesgangers vermaak en daar gaan ook uitstallings van ou motors en motorfietse wees.
Klankgeesdriftiges kan aan die kompetisie vir die voertuig met die beste klank deelneem en motorgeesdriftiges kan kyk hoe werk die enigste mobiele ‘Dyno’-meter wat gebruik gaan word om voertuie se perdekrag te toets.
Die fees sorg vir genoeg interessanthede met personeel van Kriel Myn wat ’n ondergrondse myntoneel gaan uitbeeld asook ’n oopgroefmyntoneel.
Dié myn gaan mense ook inlig oor gesondheid en feesgangers kan hul cholesterol of bloeddruk gratis by die fees laat toets.
Toegang is R40 vir volwassenes, R20 vir pensionarisse en kinders tussen ses en 12 jaar oud, en dit is gratis vir kinders jonger as ses jaar.
Die organiseerders van die fees het al hul borge bedank.
Vir meer inligting skakel mnr. Jacques Maré by 082 966 9408.



