CrimeLocal newsNews

Smouse by dwelms betrokke (HIGHVELDER)

Die probleem is op Ermelo ook groot waar dwelmsmouse oop en bloot hul goedere op sypaadjies verkoop.

Vir baie jare was die handel en misbruik van dwelms in Hollywood-bendeflieks vele Suid-Afrikaners se enigste blootstelling aan dié euwel.

Sedertdien het dwelmmisbruik wêreldwyd ‘n groot probleem geword.

Die probleem is op Ermelo ook groot waar dwelmsmouse oop en bloot hul goedere op sypaadjies verkoop.

Te midde van Nasionale Jeugmaand en die Internasionale Dag teen Dwelmmisbruik op 28 Junie, het sakeman, mnr. Hein Lamprecht, Saterdag beeldmateriaal op sy veiligheidskameras vasgevang van vermoedelik ‘n smous wat handel dryf op die sypaadjie voor sy bakkery.

Dis die einde van die maand en die dorp is ‘n miernes van bedrywigheid, die sypaadjie is vol informele sakemense wat elkeen sy plekkie in die son eis.

Volgens mnr. Lamprecht, het hy onraad vermoed toe twee mans met mekaar gepraat het en die een iets uit ‘n drankbottelhouer gehaal en op die grond laat val het sodat die ander een dit kon optel.

Hy het nader gestap en weer gemerk dat die twee mans, wat nou verder van mekaar gestaan het, met mekaar kommunikeer.

Hy het gesien hoe die een weer sy blik oopmaak en ‘n sakkie met wit poeier daarin op die grond neergooi en dit ‘n paar meter verder wegskop vir die ander man om op te tel.

Die man met die blikhouer het nie vir ‘n oomblik stilgestaan nie.

Volgens mnr. Lamprecht, het hy selfs op ‘n tydstip die blik op die grond neergesit terwyl hy saam met ‘n groep ander mans gedans, gerook en gedrink het.

Terwyl mnr. Lamprecht ‘n groep mans op die beeldmateriaal dopgehou het wat gedobbel en openlik gesit en bier drink het, het hy twee jongmans in die agtergrond opgemerk wat met ‘n stuk papier vroetel.

Die een man het toe die papier nader aan sy gesig gebring en dit het gelyk of hy iets daarvan snuif.

Daarna het hy die papier aan sy vriend oorhandig wat die ritueel herhaal het.

Die afwesigheid van die polisie is vir mnr. Lamprecht ‘n bitter pil.

Volgens hom het hy die polisie in kennis gestel en daar was geen reaksie nie.

In reaksie op die aanmelding van die situasie aan die polisie twee weke gelede, is hy aangesê om foto’s en beeldmateriaal te kry wat kan dien as bewys.

“Dis so goed ek sê vir jou jy moet jou eie deegballetjies kom rol as jy by my brood wil koop.

“Dis nie my verantwoordelikheid om die polisie se werk vir hulle te doen nie.

“As ‘n saak nie eenvoudig is nie, moet hulle ‘n plan maak om die problem op te los,” het ‘n ontstelde mnr. Lamprecht gesê.

Volgens die polisiewoordvoerder, kapt. Carla Prinsloo, het die stasiebevelvoerder, kol. Winnie Mavusu, bevestig dat die aangeleentheid ondersoek sal word. Sy versoek ook die publiek om enige ongerymdhede aan te meld deur 10111 te skakel. Kol. Mavusu het ook van die geleenheid gebruik gemaak om die publiek vir hul ondersteuning te bedank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button