Man soek drie seuns wat voertuie beskadig
Skakel mnr. Johan Kruger as jy inligting het.
SECUNDA – Mnr. Johan Kruger het ’n waarskuwing gerig aan die drie hoërskoolseuns wat sy motor Donderdag, 10 Julie by die 5 Ster Super Spar beskadig het.
“Toe ek uit die Spar gekom het, het ek gesien die sekuriteitswag het hulle gejaag en gehoor hoe hulle hom gevloek het,” het mnr. Kruger gesê.
“Hulle dink dit is ’n grap, maar dit is diefstal en kwaadwillige beskadiging van my eiendom.”
Die seuns het volgens mnr. Kruger een van die wieldoppies van sy motor se band gesteel, sy motor gekrap en daarna op hul fietse weggejaag.
Hy het hulle met sy motor agterna gesit, maar kon nie verder ry nie weens die versperrings in die groen stroke.
“Motors is duur artikels.
“Het dié seuns geen respek vir ander se goed nie?” het hy gevra.
Hy het die saak by die polisie aangemeld.
Hy wil die publiek waarsku om op die uitkyk vir dié drie seuns te wees sodat hulle nie nog mense se voertuie kan beskadig nie.


