Sandra Prinsloo lewer puik eenvrouvertoning
Oscar en die Pienk Tannie gaan oor Oscar (10) wat sterwend in die hosptiaal lê met kanker en sy briewe aan God.
SECUNDA – Sandra Prinsloo het menige in die gehoor ’n traan laat pik Vrydag, 25 Julie met haar eenvrouvertoning, Oscar en die Pienk Tannie.
Die vertoning was by die Basement Teater en handel oor Oscar (10) wat sterwend in die hosptiaal lê met kanker en sy briewe aan God, asook sy gesprekke met Ouma Rosa.
Me. Jacqueline Erasmus, Kansa Kosmos se gemeenskapsmobiliseerder, het die gehoor voor die vertoning meer oor Kansa se Relay for Life-projek wat op 4 Oktober plaasvind, vertel.
Ouma Rosa was ’n rofstoeier op haar tyd en het haar ondervindinge as rofstoeier met Oscar gedeel.
Hy en Ouma Rosa het daagliks diep dinge gepraat en dit was sy wat vir Oscar aangemoedig het om met God te praat.
Oscar het toe vir God briewe begin skryf.
Hy het per ongeluk ’n gesprek tussen sy dokter en sy ouers gehoor toe die dokter gesê het Oscar het net 12 dae oor om te leef.
In dié 12 dae het Oscar daagliks 10 jaar by sy lewe gevoeg en sodoende was hy in sy gedagtewêreld 120 jaar oud toe hy dood is.
Hy het met sy liefde, Blou Bettie, wat ook in die hospitaal was getrou.
Oscar is dood in die halfuur wat Ouma Rosa saam met sy ouers gaan koffie drink het.
Sy het soveel geleer by Oscar en hy het haar soveel liefde gegee.
Hy het in sy laaste brief geskryf dat net God hom mag wakker maak.
Die onderneming Roos en Rosslee het 25 jaar gelede die eerste stene op mekaar gelê en besluit om vanjaar verskeie opvoerings by Basement Teater vir die publiek aan te bied.
Die volgende opvoering by die Basement Teater vind op 30 Augustus plaas en is Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade deur die akteur Frank Opperman.
Kaartjies kos R100 per persoon.
Vir meer inligting of om kaartjies te bespreek, skakel Secunda Rame by 017 634 8312.



