Sasol maak skoonskip
Ondersteun Sasol Rugbyklub Saterdag in eMalahleni (WItbank).
SECUNDA – Sasol Rugbyklub het Witrivier Saterdag, 26 Julie in die halfeindronde van die Community Cup-liga 45-11 geklop.
Die wedstryd het op Witrivier plaasgevind en Sasol meet eerskomende Saterdag kragte met die Ferros Rugbyspan in eMalahleni (Witbank) in die eindronde.
Die Ferros is die wenners van verlede jaar se Community Cup-liga.
Volgens die skakelbeampte van Sasol Rugbyklub, me. Mariëtte Kruger, het Witritivier die eerste punte binne vyf minute na die afskop aangeteken.
Teen halftyd was die telling 6-7 in Sasol se guns.
“Na halftyd het Sasol die krane oopgedraai en sewe drieë aangeteken en vyf verdoel,” het me. Kruger gesê.
Sasol se Spur Man van die Wedstryd was Jaco Muller en Johann de Bruin.
Die ander puntemakers was Rudi Voster, Bates Alheit, Werner Joubert, Sibi Masina en Steven Jacobs.
Hulle het elkeen een drie gedruk en Dirk Lowies twee.
Louis Kleinhans het twee drieë verdoel en Steven Jacobs het drie drieë verdoel, onder andere sy eie een.
Me. Kruger het namens die klub die gemeenskap gevra om Sasol Rugbyklub in eMalahleni te gaan ondersteun.
“Dit is ’n groot gebeurtenis vir Sasol en die gemeenskap op Secunda,” het sy gesê.



