EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Christenfees skop af met orrelvertoning

Baie om na uit te sien vanjaar by Christenfees.

BETHAL – Die bekende Bethal Christenfees skop vanjaar met ’n orreluitvoering met prof. Wim Viljoen af.

Die uitvoering vind op 7 September om 4nm in die N.G. Kerk se Moedergemeente plaas.

Dit is ten bate van die kerk en die kunstenaars wat gaan optree, is Visser Liebenberg (klarinet, BMus IV), Colette Brand (tjello, BMus I) en Maritz Liebenberg (fluit, MBChB IV).

Viljoen is op Rustenburg gebore waar hy op sesjarige ouderdom met klavierlesse by die Rustenburg Musiekkonservatorium van prof. Derek Ochse begin het.

Hy het op 13 orrelklasse by me. Welma Els gekry.

Hy is tans die departementshoof van musiek by die Universiteit van Pretoria waar hy ook orrel, klaversimbel en orrelmetodiek doseer.

Hy het sy BMusgraad met orrel as ’n hoofvak onder leiding van prof. Stephan Zondagh aan dieselfde Universiteit voltooi.

In sy derde en vierde jaar het hy die SAMRO-prys en die Unisa Oorsese Musiekstudiebeurs vir Onderwyslisensiaat vir studie in die buiteland verwerf.

Hy het daarna vir twee jaar in Parys onder die beroemde Franse orrelis Marie-Claire Alain gestudeer en het ook klaversimbelmeestersklasse van Huguette Dreyfus bygewoon.

Om kerkorrelis te wees, lê hom na aan die hart en daarom is hy die orrelis van die studentegemeente van Universiteitsoord sedert 1992.

Hy is reeds sedert 1980 ’n lid van die Suid-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) en was ook die voorsitter vanaf 2000 to 2005.

Viljoen het in 2010 ’n erelidmaatskap van die vereniging ontvang.

Hy is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het in 2005 ’n Afrikoon-toekenning van die ATKV ontvang vir sy optredes saam met die violis Zanta Hofmeyr.

Kaartjies is by die kerk beskikbaar.

Vir meer inligting of kaartjies, skakel me. Marieta Cronje by 082 291 8615 of Dr. Henk Grobler by 072 484 9471.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button