Vrou skiet booswig in die arm
Twee mans vasgetrek na plaasaanval buite Standerton.
Me. Dorothea Hartung het ‘n man deur die voordeur in die arm geskiet na ‘n plaasaanval op 28 Julie.
Twee aanvallers het by die plaas Somersvreugde, sowat 40km buite Standerton op die Amersfoort-pad, opgedaag.
Die voorval het omstreeks 1nm plaasgevind.
Volgens lt. Fanie Nhlabathi, woorvoerder van die Standerton Polisie, het die verdagtes me. Hartung met messe gedreig.
Die aanvallers het die kluissleutels geëis en me. Hartung het dit oorhandig en terwyl hulle die kluis deursoek het, het sy om hulp oor die tweerigtingradio gevra.
Binne minute was boere van die omgewing en die polisie van Standerton, Morgenzon en Amersfoort op die toneel.
Hulle het twee gewere uit die kluis geneem, maar die wapens is nog nie opgespoor nie.
Me. Hartung het die een aanvaller geskiet terwyl hulle op die vlug geslaan het.
Die gewonde aanvaller is in hegtenis geneem.
Volgens ‘n beampte van Kasselman Veiligheidsdienste is die ander aanvaller, kort na die aanval, ook vasgetrek.
Boere in die omgewing en die polisie, saam met ‘n helikopter, was op soek na hom. Die helikopter het oor ‘n hoop kalk gevlieg, maar die loods kon nie die verdagte opmerk nie.
Mnr. Jannie Kasselman, in sy bakkie, het die booswig binne ‘n hoop kalk sien kop uitsteek.
Die man het glo homself in die kalk ingegrou, toe hy die helikopter gesien het.
Die verdagtes het op 29 Julie in die Standerton Landdroshof verskyn en is in aanhouding.
Me. Hartung is ongedeerd na die voorval.
Die Standerton Advertiser sal lesers op hoogte hou van die hofverrigtinge.


