
SECUNDA – ’n Dogter van Hoërskool Secunda is Maandag, 11 Augustus omstreeks 1.40nm naby een van die groenstroke ontvoer.
Volgens Lt. Bettina Zondo, skakelbeampte van Secunda Polisie, het sy na skool verby ’n stilstaande motor op pad huis toe geloop.
Die insittendes van die motor het haar gegryp, ’n lap oor haar kop gegooi en haar in die motor gedwing.
Hulle het glo met haar na ’n huis gery waarin hulle haar gelos het, terwyl hulle buite was.
Haar selfoon het gelui en sy kon vir haar tannie sê dat sy ontvoer is.
Die ontvoerders het haar gehoor praat en haar weer in die motor gedwing en gery.
Sy kon egter by ’n stopstraat uitspring en weghardloop.
Die polisie het haar in die straat gekry.
Geen verdere inligting was teen druktyd bekend nie.
Lt. Zondo het leerlinge gemaan om nie alleen te loop nie, maar eerder in groepe.
Nuwe inligting – 15 Augustus – 14:42
Die dogter van Hoërskool Secunda wat Maandag, 11 Augustus glo ontvoer is, is veilig.
Die polisie het nog niemand in hegtenis geneem vir die voorval nie en die polisie en skool kan geen verdere inligting oor die dogter bekend maak nie om haar identiteit te beskerm.



