
BETHAL – Die Gemeenskaps Polisiëringsforum (GPF) het op 28 Augustus by die N.G. Kerk se Noordgemeente vergader.
Bethal Polisiestasie is genader oor kwessies van dienslewering waar telefone nie beantwoord word nie.
Die nommers 017 647 9929 en 017 647 9930 is twee lyne met een telefoon en kan lank lui wanneer die ander nommer beset is en mense moet die nodige besonderhede van die polisielede kry wat die swak diens lewer.
Polisievoertuie se registrasienommers moet ook gegee kan word in sulke gevalle sodat dit opgevolg kan word.
Inbrake vind steeds snags en bedags plaas, maar diefstal vanuit motors het afgeneem.
Misdaad het in die geheel verlede maand afgeneem.
GPF-lede kan nou ook sakboeke aanskaf om notas van verdagte voertuie, mense en aktiwiteite te maak.
Die notas gaan ’n hulplyn aan die polisie wees.
Om te verseker dat die integriteit van die Whatsapp patrollie- en infogroepe sterk is, word lede versoek om hul ID-nommers, huisadres, volle name en vanne aan mnr. Wouter von Grüning, groepadmin, aan te stuur.
Nuwe lede is ook aan die ou lede voorgestel.
Die GPF het me. Michelle Viljoen, DA-raadslid, lede wat pligsgetrou patrollie ry en die Bethal polisie bedank.
Lede vergader weer op 25 September om 6.30nm.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, skakel mnre. Werner Herselman, voorsitter, by 073 619 3294 of Dirk Badenhorst, ondervoorsitter, by 082 416 4318.


