Dowwe Dolla en belasting
Dowwe Dolla laat jou skater van die lag.
SECUNDA – Margit Meyer-Rödenbeck, beter bekend as Dowwe Dolla, besoek die dorp Donderdag, 25 September met haar vertoning Dowwe Dolla Betaal Belasting.
Sy tree in die Basement Teater by Lake Umuzi op en kaartjies kos R100 per persoon.
Die vertoning beloof om die gehoor te laat skater van die lag en begin om 8nm vir 8.30nm.
Met dié dat sommige mense deesdae betaal om na Dolla se praatjies te gaan luister, kom sy met ’n skok agter dat sy vir die eerste keer in haar lewe ’n belastingopgawe sal moet indien.
Dit is ’n ingewikkelde en senutergende proses en Dolla besluit om die hulp van kenners in te roep.
Sy leer ongelooflike nuttige nuwe inligting soos wanneer die beste tye is om deur restaurante en ryk mense se asblikke te snuffel op soek na kontantstrokies wat mens kan eis, asook hoe om die eekhorings in jou tuin afhanklikes te maak.
Sy besluit ook om navorsing te doen oor wie eintlik in beheer van die geld is wat sy betaal en maak ’n afspraak met die ambassadeur van Sjina.
Om jou kaartjie te bespreek, skakel me. Elmarie van Huyssteen by 017 634 8312.



