SECUNDA – Die musiekleier van die Kruik Kerk Secunda-gemeente, mnr. Dono Murphy, sy vrou Liezl en hul seuntjie, Taylor, verlaat Secunda na 13 jaar.
Die gesin verruil Secunda vir Meyersdal aan die einde van die maand waar mnr. Murphy by die Doxa Deo Kerk gaan werk.
“Dit is met hartseer in ons harte dat ons die gemeenskap groet, maar ons gaan darem nie land uit nie en sal gereeld kom kuier,” het me. Murphy gesê.
“Secunda het diep in ons harte gekruip en daar is diep spore gelos.”
Mnr. Murphy het ’n jeugorkes gehad en by skole en jeugkampe opgetree.
Me. Murphy het as onderwyser by Tes se Kindernesspeelgroep en Diligent Students Tuisonderrig gewerk.
“Ek sal elke kind wat ek leer ken het, nooit vergeet nie.”
Mnr. Murphy het in 2012 sy solo-album, Dono Murphy Chapter One, uitgereik.
Hul gebed vir almal op Secunda is Jeremia 29:11-13 wat lui: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”



