Local newsNews

Tannie Anna kerf hout

Haar lewensmotto is om te laat leef en net nooit mismoedig te raak nie.

BETHAL – Me. Anna Botha is ’n kranige houtkerwer.

Sy teken eers haar sketse op papier en kerf die prentjie dan op die hout met ’n kerflem en ’n klein byltjie.

Volgens haar neem die proses langer as ’n uur, maar dit hang ook van die grootte en dikte af.

“Houtwerk is vir my lekker, ” het sy gesê.

Sy het vir haar kinders elkeen ’n stuk hout gekerf ter nagedagtenis aan hul ma.

Sy is op 15 Mei 1933 in Pretoria gebore en is in 1960 met mnr. Adriaan Botha getroud.

Hulle het mekaar deur die Landstem se hoekie vir eensames ontmoet.

Die egpaar het twee kinders, vyf kleinkinders en een agterkleinkind.

Me. Botha het in 1999 deur ’n moeilike tyd gegaan toe haar man skielik aan maagkanker dood is.

“Hy het skielik doodgegaan en tot vandag toe mis ek hom baie en is dit steeds seer,” het sy gesê.

Die Echo en Ridge Times het aan haar gevra hoe tye verander het en sy het gesê dat dit lekker ou dae was en dat haar ouers arm was en hulle moes mooi met hul pennies werk.

In haar vrye tyd luister sy graag na Afrikaanse musiek.

“Ek het een kas vol Christelike musiek en ’n ander kas met ander musiek,” het sy gesê.

God inspireer haar omdat Hy liefde is en omdat Hy haar nooit verlaat het nie.

Haar lewensmotto is om te laat leef en net nooit mismoedig te raak nie.

Een van haar dogters het drie jaar gelede gesê dat sy vir haar ’n plek wil gaan wys en haar na Palm-oord Sentrum vir Bejaardes geneem.

“Ek het by die deur ingestap en vir haar gesê dat ek hier wil bly.”

Volgens haar was dit haar beste besluit nog en sy het gesê dat die tehuis die lekkerste kos maak.

Haar gunsteling kleur is blou omdat sy ’n Blou Bul-rugbyondersteuner is.

“Ek onthou nog watter groot WP-rugbyondersteuner my man was,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button