CrimeLocal newsNews

‘Oom maak die tannie seer’

Nog niemand in hegtenis geneem nie.

BETHAL – PEP in Kerkstraat is op Woensdag, 8 Oktober om 11.10vm beroof.

Na wat verneem word, is net die kassiere se geld gesteel en niemand is beseer nie.

Die Echo en Ridge Times het met een van die vroue wat tydens die rooftog binne die winkel was, gepraat.

Me. Alida Botha het gesê sy was besig om klere aan te pas en haar kleinseun was buite die aanpaskamer by die speelgoed.

“Ek kon nie al my klere wat ek wou aanpas, op een slag in neem nie en ek het toe vir die vrou wat buite gestaan het gevra om my ander klere aan te gee, maar sy het nie geantwoord nie.”

Haar kleinseun het skielik onder deur die aanpasdeur gekruip en vir haar gesê: “Die oom maak die tannie seer.”

Volgens haar was daar sowat agt kliënte in die winkel.

“Al wat ek kon hoor, was dat hulle die kluis se sleutel wou hê, maar die personeel het gesê dat hulle dit nie het nie en die rowers het toe al die kassiere se geld gesteel,” het sy gesê.

Me. Botha het gesê dat alles binne drie minute verby was en die dat polisie vinnig reageer het.

“God het my gebed gehoor, want voordat ons twee in die winkel ingestap het, het ek gebid,” het sy gesê.

Volgens die polisie was daar vyf rowers en net een het ’n vuurwapen gehad.

Een van die rowers het die heeltyd ’n vuurwapen op een van die personeellede gerig en opdrag gegee dat die kluis oopgemaak word, terwyl die ander rowers geld, lugtyd en selfone by die kassiere wou hê.

Die rowers het daarna weggejaag en volgens konst. Thomas Mogadime, kommunikasiebeampte, is die rowers nog nie gevang nie.

Enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisname van die verdagtes, kan Bethal Polisiestasie skakel by 017 647 9929 of konst. Mogadime by 017 647 9928.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button