Rhona is met ’n musiekhart gebore
Rhona van der Merwe beplan om in die toekoms ’n CD van haar eie uit te bring.
BETHAL – Rhona van der Merwe is met ’n liefde vir musiek gebore en sy het van kleins af haar sangtalent ontdek en dit dadelik begin gebruik.
Sy het in ’n musikale huis grootgeword en het die hoofrol in haar gr. 7 revue gekry en die rol van Sandy van die Amerkiaanse fliek Grease vertolk.
Sy was vir agt jaar ’n musieklid van die N.G. Kerk Oosgemeente.
“Om by die kerk te sing, het my gemaklik op die verhoog en voor mense laat voel,” het sy gesê.
Rhona het ook al baie tydens kunstenaars soos Bok van Blerk, Navy Red en Kurt Darren, se voorprogramme gesing.
Sy gee tans musieklesse vir mense vanaf agt tot dertig jaar oud by die Tygerpoort Kunsskool in Pretoria waar sy ook musiek aan die Universiteit van Pretoria studeer.
Sy het al ’n paar musiekvideos op Youtube gelaai wat baie goed gedoen het.
Die gewildste video is haar weergawe van Stay With Me van Sam Smith.
Sy en haar skoolvriend, Cobus Bergh, werk gereeld saam aan nuwe musiekvideos.
“Hy help my om my musiek daar buite kry,” het sy gesê.
Rhona sing nie net nie, maar maak ook agtergrondmusiek by funksies.
Sy sing ’n verskeidenheid van musiek en volgens haar het sy nie ’n spesifieke kunstenaar wat haar musiek inspireer nie omdat sy dink dat elke kunstenaar uniek is en omdat sy alle soorte musiek geniet.
Volgens haar is die gevoel op die verhoog ’n opwindende gevoel wat ’n hoeveelheid positiewe adrenalien bevat.
“Ek voel gemaklik op die verhoog en dit is vir my lekker om mense se hart met musiek aan te raak.”
“’n Mens moet werk vir wat jy wil hê en jy moet groot droom.”
Volgens haar is die musiekbedryf meededingend, maar alles hang van jouself af en hoe jy jou eie identiteit behou.
“Musiek is ’n leerskool en moet nie laat iets of iemand jou onderkry nie,”
“Ek is dié talent gegee en geniet dit om my talent met ander te deel,” het sy gesê.
Rhona het gesê dat dit belangrik is om ’n gesonde leefstyl te leef en om goed vir optredes voor te brei.
Sy beplan om in die nabye toekoms ’n CD uit te reik en om aan meer kompetisies deel te neem.
In haar vrye tyd hou sy daarvan om op hoogte van die nuutste modes te wees en hou daarvan om kunstig te wees.
Rhona het gesê dat haar ouers, mnr. Hendrik en me. Linda van der Merwe, haar ondersteuningsraamwerk is.
“Hulle is altyd daar.”
Haar lewensmotto is dat dié wat nie waag nie, nie gaan wen nie.
Mense kan haar op haar Facebookblad, Rhona van der Merwe-Sangeres, volg.
Sy tree onder andere by troues, vroueoggende en skool- en kerkfunksies op.
Vir meer ingligting, stuur ’n epos na vandermerwerhona3@gmail.com.



