BETHAL – Die leë huis op die hoek van Du Plooy- en Moses Kwotanestraat is Kersdag deur ’n brand in puin gelê.
Na wat verneem word, het niemand in die huis gebly nie, maar boemelaars en taxi- en vragmotorbestuurders het baie keer daar oornag.
Volgens inwoners het hulle eers net grys en swart wolke gesien en daarna die huis wat in vlamme gehul was.
Die brandweer was dadelik op die toneel en volgens hulle was daar niemand in die huis nie.
Die Ridge Times het op 24 Oktober in die artikel, “Leë huis ’n nagmerrie”, oor dié huis berig.
Inwoners het oor die huis gekla wat as ’n badkamer, slaapplek en stortingsplek gebruik is.
Boemelaars het toe reeds vuur op die matte gemaak.
Na wat verneem word, het die vorige eienaar, mnr. Hennie van Heerden, van Jan-Mari Vulstasie en die huis aan Alzu verkoop.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.



