Matriekslaagsyfer kommerwekkend
AfriForum het alle matrikulante van 2014 wat geslaag het, van harte gelukgewens met dié prestasie en hulle onderwysers bedank wat die sukses moontlik gemaak het

AfriForum het alle matrikulante van 2014 wat geslaag het, van harte gelukgewens met dié prestasie en hulle onderwysers bedank wat die sukses moontlik gemaak het.
Terselfdertyd het AfriForum met groot kommer kennis geneem van die amptelike slaagsyfer van 75,8% in 2014 teenoor 78,2% in 2013. Indien gekyk word na die aantal leerlinge wat in 2003 die eerste keer in gr.1 was en hulle matriekjaar in 2014 suksesvol voltooi het, is die werklike slaagsyfer minder as 45%.
Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dui ‘n verslag van die onderwysdepartement aan dat 1 187 961 leerlinge in 2003 die eerste keer in gr.1 was.Volgens die statistiek wat Umalusi en die minister van basiese onderwys bekendgemaak het, het slegs sowat 689 625 leerlinge in 2014 die matriekeksamen geskryf (sowat 58% van die oorspronklike groep), waarvan 75,8% geslaag het.
Dit beteken dat die werklike slaagsyfer van 2003 se gr.1-groep minder as 45% van die amptelik aangekondigde persentasie was.
Dit is noodsaaklik dat die departement aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, handboekleweringsprobleme, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, disfunksionaliteit van skole, dissiplineprobleme en ook eksamenbedrog die hoof te bied.
Die departement van basiese onderrig staan voor groot uitdagings staan om indiensneembare jongmense aan die arbeidsmark te lewer.
AfriForum



