SECUNDA – Me. Seleste van Dyk wat in Hendrik de Waalstraat teen die veld tussen Trichardt en Secunda bly, het in November twee slange naby haar huis gekry.
Hulle het eers ’n onskadelike skaapstekertjie gekry en later in die maand ’n rinkhals.
“Ek bly al 13 jaar hier en ons het nog nooit probleme met slange gehad nie,” het me. Van Dyk gesê.
Sy het altyd ’n gedeelte van die gras agter hul erf gesny, maar omdat die groen stroke toegemaak is, kan sy nie meer nie en sy reken dit is waarom die slange daar was.
“Ek sal nou oor die muur moet klim om daardie gras te sny, want die munisipaliteit het in 13 jaar seker vier keer die gras hier kom sny.”
Haar twee pitbulterriërs het geblaf en sy het ondersoek gaan instel en die slang gesien.
Sy maak gewoonlik die honde bedags toe as sy werk en dié dag was me. Van Dyk egter tuis en die honde was dus buite.
“Die slang was bykans 8m van my agterdeur af en ek het gesien die reun het dit op sy stert gebyt.
“Ek moes eers die honde wegkry en het die slang toe met die honde se kombers toegegooi en dit doodgeslaan,” het sy gesê.
Die reun het bytmerke gehad, maar me. Van Dyk het gesê sy dink dit was droë byte sonder gif.



