Laerskool Goedehoop op Secunda is Mpumalanga Grootskole kampioene
Eerste rugbyspan klop Nelspruit met 20 - 15.
Laerskool Goedehoop se eerste rugbyspan het op 13 Junie by Hoërskool Middelburg hul eerste plek in die Mpumalanga Grootskole kampioenskap beklink en is as wenners gekroon.
Hulle het met Laerskool Nelspruit kragte gemeet en met 20-15 gewen.
Volgens Johan Naudé, Goedehoop se departementshoof van sport, het Goedehoop geskiedenis gemaak en dit was ’n naelbyter-wedstryd totdat die eindfluitjie geblaas het.
Goedehoop se spankaptein, Daantjie Lesch, het net voor halftyd ’n drie gedruk en dit suksesvol verdoel wat vir Goedehoop ’n voorsprong van 13 – 10 gegee het.
LEES OOK: Sasol oorheers Baberton op Secunda
Volgens Naudé was die tweede helfte van die wedstryd ’n ware wipplankstryd met beide spanne wat hard geveg het vir die titel van Mpumalanga kampioene.
Met slegs drie minute speeltyd oor, het Goedehoop se vleuel, Dian Viljoen ’n drie gedruk wat Goedehoop weer die voortou laat neem het.
Lesch was deurgaans foutloos met die skopskoen en het al sy doelskoppe verdoel om Goedehoop se telling tot 20 punte te verhoog.
Nelspruit het egter geweier om tou op te gooi en het met ’n sterk teenaanval teruggeveg.
LEES OOK: Secunda Cricket J-Tool Super Slam squads announced for U16 and senior tournaments
In die laaste minute van die wedstryd het hulle tot binne 5m van die Goedehoop-doellyn gevorder en byna daarin geslaag om punte aan te teken met ’n drie.
Volgens Naudé het Goedehoop se haker, Jayden van Aswegen fantasties gevaar onder druk en ’n vasskop uitgevoer wat die aanval beëindig en die uitslag verseël het.
“Dié oorwinning is die resultaat van harde werk, toewyding en spanwerk deur die hele seisoen,” het Naudé gesê.
Laerskool Goedehoop se bestuur het hom, as afrigter asook Riaan Myburg en die spelers geluk gewens met dié besondere prestasie.



