KINROSS – Die begrip van stilsit bestaan nie vir me. Cato van der Bank (55) nie.
Dié vrou is heeltemal te besig vir dit.
Sy werk al die afgelope 10 jaar by die Mediclinic Highveld as nagmatrone en geniet haar werk terdeë.
Sterwensbegeleiding is haar passie en sy bid gereeld vir mense as hul op hul sterfbed lê.
Sy is na skool na die verpleegkollege en was eers ’n teatersuster in ’n hospitaal in Pretoria en het later vir ’n tehuis vir verswakte bejaardes en gestremdes op Brits gewerk.
Daar het sy ook haar liefde vir kuns uitgeleef en die bejaardes gewys hoe om allerlei items te maak wat hulle op markte verkoop het.
Sy het daarna vir ’n ruk op Kimberley gebly en tuis gebly om haar twee seuns groot te maak voordat sy eers na Standerton en later na Kinross verhuis het.
Sy het vir die korrektiewe dienste op Standerton gewerk voordat sy by die Mediclinic Highveld aangesluit het.
Me. Van der Bank wou eers regte studeer toe sy nog op skool was, hoewel haar familie en vriende toe al vir haar gesê het dat sy ’n gebore verpleegster is.
“Ek het as kind daarvan gehou om klein diertjies wat seergekry het, te dokter,” het sy gesê.
Sy het een keer op hoërskool in die hof gaan sit om te sien of sy in die regsberoep wil gaan, maar dit het haar verveel en sy het daarteen besluit.
Sy wou toe drama gaan studeer, maar haar pa het haar aangemoedig om eerder as ’n verpleegster te gaan studeer.
Me. Van der Bank is kunssinnig en kan die orrel, kitaar en viool bespeel, sy skilder graag en kosmaak en bak is haar ander groot passies.
Om viool te speel, was as kind al ’n droom, maar daar was niemand op Standerton waar sy grootgeword het by wie sy vioollesse kon neem nie.
Dié droom is egter vier maande gelede bewaarheid toe sy by me. Sara Schempers op Evander begin vioollesse neem het.
Sy neem tans ook kunsklasse en skilder graag met palet.
Me. Van der Bank reis graag en was al in die hele Europa, dele van Suid-Amerika en baie lande in Afrika.
Vanjaar is Israel en Noord-Amerika in haar reisplan.
Sy lees graag outobiografieë in haar vrye tyd of doen borduurwerk.
“Ek is lief vir die lewe en leef voluit,” het sy gesê.



