SECUNDA – Mnr. Johny Swarts (47) het na bykans drie jaar as die voorsitter van die Secunda Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) bedank.
Hy het die leisels oorgegee aan mnr. Bjon Wright.
“Die passie is steeds daar, maar dit was tyd dat nuwe bloed oorneem,” het hy gesê.
Mnr. Swarts is al vir 24 jaar by Sasol werksaam as ’n produksievoorman.
Hy wil meer tyd saam met sy familie bestee, maar wil steeds patrollies ry en by sektor 4 betrokke wees.
Mnr. Swarts was eers die voorsitter van sektor 4 voordat hy Secundag GPF se voorsitter geword het.
Hy het op Senekal in die Vrystaat grootgeword en op Vrede gematrikuleer.
Hy is na matriek na Standerton toe waar hy by die gevangenis gewerk het en later by die gevangenis op Bethal.
Mnr. Swarts het by die GPF betrokke geraak nadat inbrekers sy huis “gemerk” en sy voertuig se spaarwiel gesteel het.
Hy het toe besluit om misdaad te beveg en voorkom en by sektor 4 betrokke geraak nadat hy ’n advertensie van die GPF gesien het.
“Dit was lekker om die oë en ore van die polisie te wees, maar die verantwoordelikhede was baie,” het hy gesê.
Mnr. Swarts was by die stigting van die Curamus Slagoffer Ondersteuningsentrum by die Secunda Polisiestasie betrokke
en hy is nou meer by die plaaslike bloeddiens se skenkerskomitee betrokke en het ook onlangs die GPF-lede op Leandra gaan raad gee.
Hy hengel graag in sy vrye tyd en fokus op karpe en baars en is deel van die Teks Karp Hunters-groep.
Mnr. en me. Cecilia Swarts geniet dit om te kamp en mnr. Swarts se doelwit is om dit meer dikwels te doen.
Hy is ook ’n groot Stormers-ondersteuner en sal nie skroom om in die middel van die nag op te staan om krieket of rugby op televisie te kyk as daar ’n groot wedstryd plaasvind nie.
Mnr. Swarts het almal wat hom ondersteun het, bedank en in die besonder die polisie, Langamed-Suid Ambulansdienste en die lede van die motorfietseenheid.
Hy het ook ’n spesiale dankie aan die GPF-lede vir hul ondersteuning, uitgespreek.
“Ek het lekker saam met hulle gewerk en ek koester elke oomblik wat ek met hulle gehad het.
“Die ouens wat saam met my gewerk het, is soos familie vir my,” het hy gesê.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



