Editor's choiceLocal newsNewsSchools

Oom Nick ploeg kennis terug

"As jy die 'July' wil wen, moet jy 'n resiesperd en nie 'n donkie hê nie."

Oom Nick Oosthuizen (76) en aftrede sit nie langs dieselfde vuur nie.

Die sportafrigter, wat tans saam met sy vrou Meyera, in ‘n woonstel by Laerskool Standerton woon, se loopbaan het verskeie kinkels gehad.

Hy noem Hoërskool Standerton sy alma mater en het in 1971 as onderwyser teruggekeer.

Sy akademiese opleiding, onder meer ‘n B.A. in Beeldende Kunste met Geskiedenis as ander hoofvak, het hom voorberei om dié vak aan matriekleerlinge te gee.

Benewens sy rugbyafrigting vir die eerstepan van die hoërskool het die Springbok-hekkiesatleet, Dawie Kühn, ook die vrugte van sy entoesiasme gepluk.

Volgens oom Nick moet ‘n hekkiesatleet spoed, soepelheid, ontspanne houding en deursettingsvermoë hê, terwyl genetiese eienskappe ook ‘n rol speel.

“As jy die ‘July’ wil wen, moet jy ‘n resiesperd en nie ‘n donkie hê nie.”

Hy was nou betrokke by die bou van die sportkompleks by die hoërskool en onthou dat hy daagliks met ‘n oorpak opgedaag het.

Die pa van een dogter en drie seuns het nege kleinkinders.

Oom Nick het ook van kleinsaf ‘n belangstelling in kuns en sy skilderye het menige galeryeienaar beïndruk.

Hy beskryf sy styl as nie waarlik impressionisties nie, maar ‘n kombinasie tussen dié kunsvorm en realisme.

Met sy kuns probeer hy nie verhewe boodskappe gee nie, maar het hom aanvanklik hoofsaaklik op diere en plaasfigure toegespits.

“Ek wou die volkslewe met deernis weergee,” het hy gesê.

Oom Nick vind by die Amerikaanse skilder Norman Rockwell aanklank wat die Amerikaanse volkslewe só uitgebeeld het.

Hy erken dat hy ‘n romantikus is en sterk pastorale temas kom in sy werk voor.

Hoewel hy in 1975 by die hoërskool afgetree het, het hy weer in 1982 begin onderwys gee.

Tussendeur het hy op sy geliefde Hoëveld met mielies geboer en ‘n melkkudde gehad.

Laerskool Standerton se hekkiesatlete word nou touwys gemaak.

“Die skool het vir my ‘n geleentheid gegee om met kinders te werk.”

 

Besoek gerus ons ander webtuistes hier:

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.

Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:

BBM – 266F5BCC

WhatsApp – 0748872805

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button