EntertainmentLifestyleLocal newsNewsOpinion

Elke saak het ’n kant

Verslaggewer skryf oor rellie met Nataniël.

Ek hou van Nataniël, rêrig ek doen!

Gisteraand was ek egter aan sy dik kant en dit het hom rooi laat sien.

Ek was laat vir sy optrede by die Kruik-teater weens ander afsprake en het dus nie geweet dat ek nie foto’s van hom mag neem nie.

Foto’s mag glo net van hom geneem word tydens ’n professionele fotosessie.

Die teater was gepak met bykans 1 200 mense en die organiseerders moes glo ekstra stoele huur.

Ek het voor die hele gehoor vorentoe geloop om ’n foto van Nataniël te neem.

Toe was die gort gaar.

Hy het sy optrede gestop, na my gekyk en gevra: “Wat dink jy doen jy?”

Die gehoor se aandag was op my gevestig en ek het gesê: “Ek is van die  koerant.”

Hy het gereageer: “Ek gee nie om wie jy is nie, jy kan gerus sit net soos die res.

“Moenie my van die kant afneem nie, dit is my slegte kant, ek is dik genoeg.”

Die gehoor het geskater van die lag en vir my was dit vernederend, want ek het net my werk gedoen!

Ek was baie verlig toe ek die teater uiteindelik kon verlaat.

Verskeie mense het vir my en my kollegas boodskappe gestuur en gesê mense praat oor die petalje op sosiale media.

Lede van die Facebookblad Secunda Babbel Bekkies het baie kommentaar gelewer en die dorp gons.

Sommiges het simpatie getoon, terwyl ander gedink het Nataniël het sy sin vir humor gedeel.

Ronel van Tonder sê: “Hulle het baie duidelik gemaak geen foto’s of videos mag geneem word nie. Hy het toe net begin met die show en die pop loop vorentoe om nader te gaan. Hy stop met sy storie en vra haar: ‘En waarheen dink jy gaan jy, toe gaan sit!’ Sy antwoord so ewe: ‘Maar ek is van die koerant.’ Toe kap hy haar: “Nou dink jy omdat jy van die koerant is, jy kan my van die kant af kom afneem. Gaan sit!!’ Toe moes sy ewe gedwee gaan sit sonder ’n kiekie.”

Heleen van der Merwe sê: “Dit was skreeusnaaks. Jammer dat sy voor almal verneder is, maar sy moes dalk vooraf bietjie navorsing gedoen het dan sou sy besef hy haat dit en kon sy reëlings tref vir fotos.

So, vernederend of nie, ek hou steeds van hom.

  • Die organiseerders het die Ridge Times genooi en gevra dat ons foto’s gaan neem.

Toe ek dit vanoggend met my kollegas deel, het hulle ook lekker gelag en ek was die hoofpunt van bespreking.

 

 

 

 

 

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button