Local newsNewsSport

Standerton en Loskop deel die punte

Standerton Dekalb Rugbyklub het op 18 April gelykop met 12-12 teen Loskop geëindig.

Die eerstespan van Standerton Dekalb Rugbyklub het op 18 April gelykop met 12-12 teen Loskop geëindig.

Loskop was vinnig uit die blokke en het binne die eerste vyf minute, na ’n pragtige agterlynbeweging, agter die doellyn gaan kuier.

Met die telling 5-0 was Loskop op die voorvoet en hulle voorspelers het veld gewen.

Slegs 10 minute voor rustyd het Loskop na ’n rolbeweging weer gaan druk en verdoel, wat die telling op 12-0 te staan gebring het.

Net voor rustyd het Standerton se binnesenter, Eric Heymans, die bal onderskep en in die hoek gaan druk en die telling was 12-5.

Na rustyd het albei spanne die bal laat loop.

Met 15 minute om te gaan, het Standerton ’n strafskop in Loskop se kwartgebied gekry.

Daar is besluit om die bal te dryf en Michael van Vuren, kaptein, het oorgeduik en Tyrone Pienaar het met die doelskop geslaag, wat die telling 12-12 gemaak het.

In die laaste 10 minute was Loskop op die aanval en die buitesenter het met vyf minute oor, oor die doellyn geduik, maar die bal verloor.

Standerton moes die laaste 10 minute met 14 spelers speel nadat Wian Prinsloo, haker, die trekpas weens ’n oortreding in die losgemaal gekry het.

Kort voor die eindfluitjie het Standerton die bal laat loop van ’n skrum af maar is meters voor die doellyn gestop.

“Dit was klipharde rugby en die spelers kan trots op hulleself wees om terug te veg van 12-0 af,” het mnr. Hendrik Coetzee, hoofafrigter van die klub, gesê.

“Daar is nog werk wat voorlê, maar weens die nat omstandighede was dit moeilik om die bal die werk te laat doen.”

“Die spelers het egter soos tiere verdedig,” het Iain Pattullo, hulpafrigter, gesê.

Die klub se volgende wedstryd is op 9 Mei teen die Rooikatte op Lydenburg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button