Pluimvee op klein skaal
Die Rooikoppen Abattoir en Pluimveeplaas het sedert Oktober verlede jaar sowat 3 000 hoenders maandeliks begin slag.
Die Rooikoppen Abattoir en Pluimveeplaas het sedert Oktober verlede jaar sowat 3 000 hoenders maandeliks begin slag.
“Ons slag 1 000 van ons eie hoenders wat ons self grootmaak en sowat 2 000 hoenders van buite af,” het Drikus Degenaar, seun van mnr. Lourie Degenaar, eienaar, gesê.
Drikus help graag uit as hy met vakansie is en studeer tans in sy eerste jaar by Onderstepoort Veeartsenyskool.
“Ons kan op die oomblik sowat 250 hoenders daagliks op ses weke oud slag en die hoenders slag sowat 1,8kg of 2kg uit,” het hy gesê.
Volgens hom was dit nie so in die begin nie want niemand het opleiding gehad nie en die ses werkers moes van nuuts af leer.
Die kuikens word plaaslik teen R6,50 elk aangekoop en word vir die eerste twee weke in ’n spesiale hok, met gasverwarming, gesit.
“Deur die dag hou ons die temperatuur op sowat 22°C en 25° in die aande.”
Daarna word die hoenders in een van die ander twee hokke geplaas.
“Die kuikens kan meer as die skape en beeste op die plaas suip, met ’n 1 000 kuikens wat sowat 300 liter water ’n dag suip,” het Drikus met ’n glimlag op sy gesig gesê.
In die nuwe hokke is daar ’n spesiale waterstelsel en soos hulle grootword, word die stelsel volgens die hoendergrootte aangepas.
“Die hoenders wat nie genoeg groei nie, kom nie by die water uit nie en vrek en ons het tans ’n 5% sterftesyfer.”
Na ses weke word die hoenders abattoir toe gestuur waar die slagproses begin.
Lees meer oor wat die proses behels in die volgende uitgawe van die Standerton Advertiser.














