Editor's choiceLocal newsNewsSchools

Ouers wil gerugte in die dorp tot einde bring

Die gesin wil die bevinding van die nadoodse ondersoek bekendmaak om die bespiegelinge tot ’n einde te bring.

Divan Joubert (gr.1) is op 20 April by Laerskool Standerton oorlede.

Divan het by die skool inmekaargesak en ’n gr. 7-leerling het Divan opgehelp, maar hy het dadelik daarna weer ineengestort.

’n Dokter se hulp is ingeroep en hy het Divan dood verklaar.

Volgens ’n kollega van Divan se pa het hulle mnr. Leon Joubert se verjaarsdag by die werk gevier toe hy die nuus van sy seun ontvang het.

“Die hoekoms en waaroms het nie antwoorde nie,” het die gesin in ’n persverklaring gesê.

“Ons wil die bevinding van die nadoodse ondersoek bekendmaak om die bespiegelinge en gerugte, wat almal om hom seermaak, hiermee tot ’n einde te bring.”

Daar is bevind dat daar geen opsigtelike rede vir sy afsterwe was nie.

Sy organe was gesond, sy lugweg skoon en hy het geen bloeding of enige kneusings gehad nie.

Divan het nie gestruikel en geval nie, maar ineengestort.

Die patologiese verslag sal weke neem om afgehandel te word en selfs dit sal dalk nie ’n antwoord bied nie.

Divan was gesond en het geen medikasie gebruik nie en was, soos gewoonlik, luidrugtig toe hy by die skool afgelaai is.

Die laerskool se leerlingraadslede en personeel op die terrein het dadelik noodhulp toegepas, waarvoor hulle opgelei is.

Divan het nie gereageer nie en is binne minute geneem na ’n bekwame geneesheer wat reg oorkant die skoolhek bly.

Hy was reeds oorlede.

“Ons is ook dadelik in kennis gestel en was self binne minute by Divan,” het die gesin gesê.

“Alles wat menslik moontlik was, is vir hom gedoen.”

Die ouers het onomwonde aangevoer dat hulle niemand verkwalik of dat enige iemand betrokke enigsins anders moes opgetree het nie.

“Ons wil eerder ons dank en waardering uitspreek vir Laerskool Standerton se personeel se toegewydheid en liefde aan ons almal se kinders.

“Ons weet en beleef ook julle hartseer saam met ons, dalk sal ons eendag kan verstaan.”

’n Roudiens is op 24 April by die N.G. Kerk se Moedergemeente (Klipkerk) gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button