EVANDER – ’n Ma van twee seuns sal enige iets doen om hulle by haar te hou.
Me. Fransiska van Staden is nie in staat om te werk nie omdat sy epileptiese aanvalle kry.
Haar liggaam beheer nie die aanvalle wat sy kry nie en sy het al vantevore maande in die hospitaal deurgebring.
Haar twee seuns , Francois (9) en Rudolph (8) van Staden, is altwee outisties en ly aan aandagtekort sindromm en epilepsie en het ’n rare senuweestelselsindroom wat onwikkelingsgestremdhede veroorsaak.
Francois se gedrag word dikwels as aggressief beskryf en ‘n deel van sy brein wanneer hy pyn moet ervaar as hy seerkry, funsioneer nie meer nie.
Hy word as ’n kind beskryf wat sy liefde vir ander inhou, maar wel toon as hy dit ontvang.
Sy boetie, Rudolph, is tans besig om heeltemal blind in altwee oë te word.
Die oorblywende sig wat hy het, is vir lig en donker voorwerpe en bewegings.
Rudolph reageer meestal op gehoor as daar met hom gekommunikeer word.
Die twee broers is leerlinge van Marietjie Skool en het soggens die bussie wat van Evander na Secunda ry, as vervoer gebruik.
Die skool het onlangs opleiding van die Govan Mbeki Munisipaliteit se brandweer ontvang oor die hantering van brandblussers tydens ’n vuur.
Brandweermanne het die brandblussers aan die leerlinge gedemonstreer en hulle die geleentheid gegee om dit self te toets.
Francois het een oggend die brandblusser wat op die skoolbus is in die hande gekry, die pen losgetrek en dit oopgemaak.
Hy het almal met die brandblusser gespuit.
Die busbestuurder moes van die pad aftrek en leerlinge was na die voorval getraumatiseerd.
Me. Van Staden is dadelik in kennis gestel en haar kinders het nou nie vervoer om soggens skool toe te gaan nie.
Me. Mariane Ueckermann, skoolhoof, plaas die veiligheid van die leerlinge eerste.
“Francois het die leerlinge in die skoolbus se lewens in gevaar gestel.”
“Hulle plekke in die skool is steeds beskikbaar, maar ons kan hulle nie help met vervoer nie,“ het me. Ueckermann gesê.
Francois en Rudolph is onrustig omdat hulle nie skool toe kan gaan nie.
Me. van Staden help hulle tans met onderrig van die huis af, maar vir haar is dit moeilik omdat hulle ’n handvol is.
Evander Hospitaal verskaf hul medisyne en daar is tye dat die hospitaal nie voorraad het om die pasiënte te help nie.
Me. Van Staden se man werk, maar verdien nie genoeg om hulle finansieel te onderhou nie.
Francois en Rudolph moet een keer ’n maand ’n spesialis in Pretoria besoek en die koste is duur.
Die gesin kry swaar en hulle vra die gemeenskap se hulp.
Me. Van Staden se grootste behoefte op die oomblik is kruideniersware en vervoer sodat haar kinders kan skool toe gaan.
“As daar ’n huismoeder is wat elke dag van Evander na Secunda ry, sal ek haar hulp waardeer.”
“My seuns is onbeheerbaar in ’n motor en dus sal ek moet saamry om ’n oog te hou,” het me. van Staden gesê.
Francois en Rudolph is onafskeidbaar en sy ma wil net die beste vir hulle hê.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590




