Gesin word aangehou, diewe breek los in Evander
Niemand is ernstig beseer nie, maar die gesin is steeds getraumatiseerd.
EVANDER – Mnr. Hendrik Lues en sy gesin is dankbaar dat hulle lewens gespaar is nadat hulle aangehou is tydens ’n huisinbraak.
Hy het op Woensdag, 28 Mei sy kollega na werk by die huis gaan aflaai en melk en brood gekoop voordat hy huiswaarts gekeer het.
Sy vrou en kinders was reeds by die huis en hy het opgemerk dat die huis se hek nie gesluit is nie.
“Ek maak seker die hek is altyd gesluit.”
Hy het die melk en die brood op die kombuistafel gesit en toe hy na die stoep se rigting kyk, het hy opgmerk dat ’n man ’n vuurwapen op hom rig.
Kort daarna het drie ander mans ook op die toneel verskyn en almal was gewapen.
Die rowers het hom en sy vrou vasgebind en hulle weerskante van die bed laat lê, maar sy vrou het in die hoek van die slaapkamer gaan lê en die kinders met ’n kombers toegegooi sodat hulle nie die geweld moet ervaar nie.
Een van die mans het ’n vuurwapen teen mnr. Lues se kop gehou en aangehou vra waar is die kluis.
Vrees en skok het deur mnr. Lues se denke gegaan en hy het vir die diewe gesê hulle kan alles vat, maar hul moet sy gesin uitlos.
Volgens hom is twee platskerm televisies, selfone, kameras, klanktoerusting en kontant gesteel.
Sy vrou het haar losgewikkel en ’n mes gebruik om hom los te maak.
Die diewe het sy werksmotor gesteel en volgens die motor se spoorsnyer is dit die laaste by die Sasol Vulstasie op die N17-snelweg opgemerk.
Hulle het kort na die huisinbraak oor die muur gespring en hulle bure in kennis gestel om die polisie te kontak.
Die polisie was op die toneel en die saak word verder ondersoek.
Die kerk se ligte oorkant mnr. Lues se huis verlig saans sy erf.
Sy bure het vroeër die aand ’n verdagte motor in die omgewing opgemerk en gesien dat die ligte nie werk nie.
“Die kerk se ligte skyn elke aand in ons erf, maar vanaand het dit nie.” het mnr. Lues gesê.
Sy vrou, me. Zeldie Lues het op Sondag, 24 Mei opgemerk dat mense foto’s van hulle huis neem en vermoed dit is diewe wat by hulle ingebreek het.
Niemand is ernstig beseer nie, maar die gesin is steeds getraumatiseerd.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590




