Vrou van Trichardt ruk velkwale reg met eie seepresepte
Magriet Gebhardt maak boerseep, rooibosseep, borrie (turmeric)-seep, aloe vera-seep en velsorgprodukte.
Magriet Gebhardt (65) het braaf en vol moed in haar nuwe seisoen ingestap. Sy het vir 40 dae gevas en die Here het vir haar Jesaja 43:19, wat lui: ‘Kyk, Ek gaan iets nuuts doen.
Ek maak in die woestyn ’n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring,’ gegee en Gebhardt het ervaar dat die Here vir haar gesê het dat Hy ook iets nuuts in haar lewe gaan doen.
In dié nuwe seisoen, het sy haar eie boerseep begin maak. Vandag voorsien sy reeds aan groot kettingwinkels wat albei Spars op Secunda, slaghuise, ’n apteek en nog winkels op Trichardt en Thistle Grove, insluit.
Gebhardt glo die Heilige Gees het haar gelei en toegerus om dié seep te begin maak en buiten die boerseep maak sy nou ook haar eie rooibosseep, borrie (turmeric)-seep, aloe vera-seep en velsorgprodukte.
Sy het vir 11 jaar by Laerskool Hoëveld as ontvangsdame en administratiewe beampte gewerk. Sy het einde September 2024 bedank en in Oktober dieselfde jaar met die seep begin eksperimenteer.
In dié tyd, het die Here vir haar Jesaja 60:1, wat lui: ‘Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op,’ gewys.

“Ek het ondervind dat die Here vir my gesê het ek moet dit ‘Griet se Boerseep’ noem,” het Gebhardt vertel.
Dié boerseep is 100% natuurlik en veilig vir baba’s se velletjies en Gebhardt se Aloe-seep help veral vir kinders met velprobleme.
Volgens Gebhardt is dit harde werk om die boerseep en ander produkte te maak. Sy het een keer in haar gesig gebrand toe sy per ongeluk met handskoene wat van die bestanddele op gehad het en warm was, aan haar gesig gevat het.
’n Mens maak ook nie dié seep net oor ’n naweek maak nie, die boerseep moet vir sowat ses weke staan, sodat al die bestanddele met mekaar kan verbind om by die eindproduk uit te kom.
Dit verg dus goeie beplanning en tydsberekening.
Gebhardt beskryf haarself as ’n goed georganiseerde mens en het gesê die weer moet ook saamspeel om dié seep te maak.
“As dit te koud is, werk dit nie, dan maak ek nie seep nie.”
Haar man, Kobus, met wie sy al 44 jaar getroud is, werk self nog voltyds by Sasol, maar in die aande as hy tuiskom, help hy haar om die seep in blokke te sny.
Gebhardt is lief vir diere en die egpaar se twee Jack Russell-hondjies, Maya en Buks, het ’n koninklike leefstyl in dié huis.
Haar liefde vir diere kom sedert haar kinderdae in Steynsrus, ’n klein dorpie in die Vrystaat waar sy grootgeword het. Haar ouers het ’n groot burger-erf gehad en sy moes altyd die hoenders se eiers gaan uithaal.
“Ek het dan altyd eers met die hoenders gesels en ek praat vandag nog met my plante en blomme.”
Gebhardt, wat een van nege kinders was, het as kind graag tydens skoolvakansies in ’n Portugese kafee gewerk en daar geleer hoe om te smous.
Sy het in ’n Christelike huis groot geword, maar eers in haar jare as jong volwassene, nadat ’n dominee haar gevra het: ‘Het jy al in jou geestelike lewe by ’n plek gekom, waar as jy sou sterf, jy met sekerheid kan sê jy sou hemel toe gaan?’ regtig die Here leer ken.
ALSO CHECK: R6.5 million water and sanitation projects handed over to Bethal rural communities
“Ek kon nie op daardie stadium ja sê nie en ek het besef daar is meer.”
Gebhardt het toe ’n dieper verhouding met haar Skepper ontdek en deesdae praat sy gereeld met Hom en ken Hom eers in alles wat sy doen.
Sy doen ook siekbed- en sterftebegeleiding as mense haar nader. Sy het vroeërjare eers by die destydse koörperasie op Trichardt gewerk, toe as eiendomsagent by WMPG en op ’n stadium het sy ook vir die destydse Adullam radiostasie hospitaalbesoeke gedoen.
Dié Adullam radiostasie het destyds ’n program uitgesaai waartydens mense kon inskakel en boodskappe gee vir siekes in die hospitaal.
Sy het later as ontvangsdame by twee dokters se spreekkamers gewerk en ook by die Mediclinic Highveld. Die egpaar het Secunda vir so paar jaar vir Richardsbaai verruil, maar hul pad weer teruggevind na Secunda in 2013.
Gebhardt is lief vir mense, veral kinders en geniet dit om met mense interaksie te hê. In haar vrye tyd bestee sy graag tyd saam met haar man en twee Jack Russells, kyk na die wolke en die wilde voëltjies in haar tuin of sy werk in die tuin.



