Brümilda en Mighty Sultan stel hulle visier hoog
Brümilda Mostert kry sterre in haar oë as sy van haar toekomsplanne vertel.
Brümilda Mostert (11), ’n gr. 6 leerling van Laerskool Standerton, kry sterre in haar oë as sy van haar toekomsplanne vertel.
Brümilda en haar perd, Mighty Sultan, palm die een toekenning na die ander op kompetisies in.
Sy het haar skool en dorp in Limpopo verteenwoordig by skoue op Hoedspruit, in Nelspruit en op Phalaborwa en met verskeie eerste plekke teruggekeer.
Dié ruiter en perd sal by die Mpumalanga Standerton Landbouskou vanaf 16 tot 18 Julie, sowel as die Quantum Energy Standerton Hoëveldfees in aksie wees, wat ’n belewenis vir enige toeskouer sal wees.
Volgens haar ma, me. Melanie Vosloo, het Brümilda die reun Mighty gedoop wat nou saam met die geregistreerde naam, Sultan, gebruik word.
Mighty Sultan is ook 11 jaar oud en is teen ’n winskoopprys van R35 000 aangekoop.
Dié perd is op stal by Vaalrivier Perdryklub waar Brümilda hom daagliks, eksamentye uitgesluit, laat oefen.
Brümilda het op 18 maande haar tuis gemaak op die rug van ’n ponie en op tweejarige ouderdom aan haar eerste kompetisie deelgeneem.
Sy en ’n ponie, Starlight, het vir twee agtereenvolgende jare onder die agt beste ruiters in Gauteng getel en sy het haar eerste byeenkoms op driejarige ouderdom gewen.
Dit was onder die wakende oog van haar ma, wie se jongste suster, Yolandie, ook in die perdebedryf doenig is met die afrigting van resiesperde.
Vir die oningewyde sal die geld verbonde aan so ’n sportsoort sekerlik die oë laat rek.
Benewens die stalfooie, moet daar voorsiening vir kos, inenting, ontwurming, die rasper van tande en so meer gemaak word.
Brümilda sal graag eendag in die Protea-kleure aan die Olimpiese Spele wil deelneem.
“Dit is een van my grootste drome,” het sy gesê.
Vir dié perdeliefhebber is dit net sy en haar perd as hulle soos ’n span oor ’n hindernis moet spring.
Die gure weer het Mighty Sultan aanvanklik afgeskrik om te spring, maar onder Brümilda se leiding, het ruiter en perd hulle oefenrondte bemeester.




