Local newsNews

Joyce Munnik skielik oorlede

'n Oud-Ermeloër, me. Joyce Munnik (78), is Saterdag, 25 Julie skielik in'n versorgingseenheid vir Alzheimerpasiënte in die Kosmos-aftree-oord op Standerton oorlede.

‘n Oud-Ermeloër, me. Joyce Munnik (78), is Saterdag, 25 Julie skielik in’n versorgingseenheid vir Alzheimerpasiënte in die Kosmos-aftree-oord op Standerton oorlede.

Joyce Peters is op 9 Februarie 1937 in Johannesburg gebore en was die tweede dogter van vyf kinders.

Sy het in die veertigerjare na Ermelo verhuis waar sy Schalk Munnik ontmoet en met hom in die huwelik getree het.

Ná haar skoolopleiding aan die destydse Hoër Handelskool, het sy ‘n administratiewe pos by die ou provinsiale hospitaal beklee.

Sy het daarna baie jare vir die plaaslike polisie gewerk en was ‘n kranige lid van hul tennisklub.

Nadat sy uit die polisiediens getree het, het sy haar eggenoot in sy sakeonderneming bygestaan.

Die egpaar het hulle drie maande gelede op Standerton gevestig.

Joyce was ‘n liefdevolle, sorgsame moeder en flukse huisvrou vir wie geen opoffering te groot was nie.

Vanweë haar liefde vir kookkuns het sy baie ure voor die kospotte deurgebring om smaaklike disse vir haar gesin voor te berei. Sy was ook ‘n baasbakster.

Joyce was ook ‘n aktiewe lidmaat van die plaaslike Methodiste-gemeente.

Sy word deur haar eggenoot met wie sy 54 jaar getroud was, ‘n getroude seun, Hardus, getroude dogter, Teresa Odendaal, en vier kleinkinders oorlewe.

Ds. Wynand van Wyk het Vrydag ‘n gedenkdiens in die AP-Kerk op Ermelo gehou waar familie en vriende die laaste eer aan die ontslapene bewys het. (CK)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button