BETHAL – Vir me. Frida Olivier het die negatiewe woord afdanking meer definisie gekry nadat sy onlangs by die DBV begin werk het.
Sy het haar werk weens Sasol se Phoenix-projek verloor nadat sy vir twee jaar as ’n veiligheidsoffisier gewerk het.
“Ek het die pos by die DBV in die plaaslike koerant gesien en besluit om ’n kans te waag.”
Diere het haar nog altyd na aan die hart gelê.
Hoewel sy nog nooit met diere op so ’n manier gewerk het nie, het sy tog die geleentheid gekry om ’n leerlinginspekteur te wees.
Dit is vir haar lekker om te weet dat sy nou iewers ’n verskil kan maak.
“Ons het ’n hond eendag opgetel en ek het iewers gesien dat mense na dieselfde hond op soek is.
Ek het hulle geskakel om te sê dat ek die hond het.”
Die uitdrukkings op hul gesigte was onbeskryflik en hulle was so bly om hulle hond terug te hê.
Volgens haar is dit net daar waar sy besef het watter groot impak haar werk op ander het.
“Ek leer daagliks nuwe dinge en hanteer ook nuwe probleme.”
’n Inspekteur moet geduld hê omdat diere se persoonlikhede verskillend is.
As ’n mens uitgaan om ’n kat of ’n hond te vang, moet jy besef dat hulle ook bang is.
“Neem die dier se gevoelens in ag.”
Me. Olivier het gesê dat sy daagliks met ’n glimlag huistoe gaan en dat sy regtig die werk geniet.
Haar droom was nog altyd om ’n veearts te word en volgens haar is dit die naaste wat sy aan dit gaan kom.
Sy het haar ergste geval as hartverskeurend beskryf en dit was toe sy ’n perd wat deur ’n vragmotor raakgery is, laat uitsit het.
“Dit is daai gevoel van magteloosheid.”
Die lekkerste deel van die werk is om diere uit moeilike omstandighede te red asook om nuwe mense te sien wat ’n hond of kat aanneem.
Haar doelwitte is om haarself op te werk tot die hoogste posisie in die DBV.
Me. Olivier het gesê dat as sy iets van die DBV op die dorp kan verander, sal dit wees om dit uit te brei en plek te maak vir meer en groter diere.
Sy beplan ook om meer mense betrokke te kry sodat die diere meer gehelp kan word.
Sy is op 6 Mei in 1983 op Middelburg gebore en het as kind baie verhuis.
Haar skoolloopbaan het sy by Hoërskool Oosterland voltooi en het dadelik na skool begin werk.
Vir drie jaar lank het sy by Sasol Myne ondergronds gewerk en vir drie jaar bogronds.
Haar suster, me. Monique Grobler is haar grooste inspirasie omdat sy ’n baie behulpsame mens is wat altyd gewillig is om ander te help en eerste te stel.
As sy nie met diere werk nie, vang sy graag vis, lees boeke of bestee tyd om die kampvuur.
“Too blessed to be depressed,” is haar lewensmotto en volgens haar is geloof die belangrikste ding in ’n mens se lewe.
“Dit maak dat jy deur moeilike tye kom en dit maak dat jy vasklou aan dat daar wel iets beters op jou wag.”
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



