Steven is Secunda se eie Puma rugbyspeler
Hoe kan jy steeds bo uit kom wanneer jy ‘n groot terugslag gehad het?
SECUNDA – Steven Jacobs het vyf jaar gelede byna sy rugbydroom gegroet nadat hy in 2010 ’n rugbybesering opgedoen het.
Dié jong onderwyser van Hoërskool Oosterland het sedert laerskool ’n liefde vir rugby gehad.
Steven was nie net op skool ’n goeie rugbyspeler nie, maar ook ’n steratleet.
Hy is in 2011 as Hoërskool Hoogenhout se sportseun van die jaar aangewys en het twee keer sy plek in die Suid-Afrikaanse atletiekspan losgehardloop.
Hy was deel van die Suid-Afrikaanse landloopspan vanaf 2004 tot 2010.
Sedert hy in 2007 vir die 0/13 Puma-rugbyspan gekies is, het hy meer in rugby belangestel.
Hy is op hoërskool drie keer vir die Hoëveld Bokkiespan gekies, asook vir die Suid Afrikaanse 0/19 Bokkiespan.
Steven is verskeie kere in die Puma-skolespan en die Pumaspan opgeneem.
Hy speel nie net 15-aan-’n-kant rugby nie, maar ook sewesrugby.
Hy is in gr. 12 vir die 0/19 Hoëveld Sewes Bokkiespan, asook die 15-aan-’n-kant-span gekies.
Steven speel sedert 2013 vir die Sasol Hydra-Arc Rugbyspan.
Omdat hy in 2010 ’n groot skoueroperasie moes ondergaan, het hy byna moed verloor.
Al die spiere in sy skouer was geskeur en daar moes ook plate ingeplant word om die herstelproses te versnel.
Omdat hy kop gehou en nie toegelaat het dat negatiwiteit hom beïnvloed nie, het hy deurgedruk en sterker aan die anderkant uitgekom.
Gedurende die rehabilitasieperiode het hy ekstra fisio-oefeninge gedoen, harder gewerk in die gimnasium en homself gemotiveer deur te onthou dat dinge baie erger kon gewees het.
Steven het aanhou hard werk om sy droom te bereik, naamlik dat hy graag eendag ’n Curriebeker-rugbyspeler wil word.
Hy is weer vanjaar vir die Pumaspan gekies.
Die 0/21 Pumaspan neem aan die Absa-kampioenskappe deel en het nog nie een wedstryd vanjaar verloor nie.
In ’n onderhoud met die Ridge Times het hy gesê dat hy dit nie sonder die ondersteuning van sy ouers kon doen nie en dat sy pa een van sy rolmodelle is.
“Wanneer ek glo in iets en glo dat ek dit kan en gaan bereik, sal niks my keer nie.
“Ek het besluit om nie op te gee nie, maar deur te druk en te veg vir my droom en dit na te jaag.”
Steven droom groot en werk vir wat hy wil hê, en draf vanjaar weer as vleuel uit.


Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



