Editor's choiceLocal newsNews

Bethal-tak die beste in Mpumalanga

Bethal-tak as tak van die jaar aangewys.

BETHAL – Solidariteit Helpende Hand spog reeds met 139 takke landswyd en die Bethal-tak is pas aangewys as Mpumalanga se Nasionale Tak van die Jaar.

“Helpende Hand is van vrywilligers afhanklik en geen goeie daad is moontlik sonder die hulp van onbaatsugtige vrywilligers soos die mense van die Bethal-tak nie,” het me. Alisha De Lange, streekorganiseerder van Mpumalanga, gesê.

Die Bethal-tak is op 11 Junie 2014 gestig en het sedertdien groot hoogtes bereik.

Hulle was, en is steeds by onder andere die volgende betrokke:

– Tien behoeftige bejaardes op die dorp is tydens verskeie geleenthede bederf met ’n Kersete; ‘n konsert waar kleuters van ’n plaaslike kleuterskool opgetree het en voor die Winter het elkeen ’n kombers ontvang.

Hulle kry weekliks kos wat deur die taklede voorberei en afgelewer word.

– Die tak het ’n rolstoel aan ‘n bejaarde geskenk wat lank op soek was na een.

– By Silwerjare Tehuis vir Bejaardes het hulle ’n Kersopvoering gereël waar kleuters van Skapies & Plaasjapies Kleuterskool vir hulle gesing en kolwyntjies uitgedeel het.

– Die tak het saam met Kansa-lede ’n suksesvolle oggend aangebied waartydens geld vir kankerlyers ingesamel is.

– ‘n Kersboom is in Desember vir behoeftige kinders gereël waartydens hulle partytjie gehou en geskenke ontvang het.

– Aan die begin van 2015 het hulle verskeie skooltasse vir graad een leerlinge van die plaaslike laerskole uitgedeel.

– Hulle het kinders met ’n behoefte aan skryfbehoeftes geïdentifiseer en gehelp.

– Laerskool Marietjie van Niekerk se kleuterskool is deur taklede genomineer om vir ’n jaar kos te ontvang.

– ’n Gasstoof en ’n mikrogolfoond is aan Laerskool Marietjie van Niekerk geskenk. Die skool het ook by die leerkragprojek ingeskakel waar daar ’n assistent-onderwyser by die skool geplaas is. ’n Deel van sy salaris word deur Helpende Hand betaal.

– By Laerskool H.M. Swart help die bestuurslede weekliks vrywillig by die hulpklas en ’n bord gekookte kos word aan behoeftige leerlinge uitgedeel.

– Hulle het werk geskep vir ’n vrou by Laerskool H.M. Swart se snoepie deur tydelik die snoepie oor te neem en iemand aan te stel wat nou voltyds daar werk.

– Hulle voorsien gereeld klere waar daar groot nood is en versprei ook skenkings soos mieliemeel tussen verskeie organisasies op die dorp.

– ’n Inwoner, me. Kotie Laas wat 104 jaar oud is, kon ’n gehoorstukkie kry danksy die lede wat hulp gekry het.

– Die tak het ook atletiekskoene vir ‘n seun van Jim van Tonderskool wat Suid-Afrikaanse Kleure verwerf het, gekoop. Dit het daartoe gelei dat die kind uitstekend presteer het.

Volgens me. de Lange het die Bethal- tak in ’n jaar se tyd ’n groot verskil op die dorp gemaak en baie minderbevoorregtes gehelp en geondersteun.

“Dit is slegs ’n handjievol mense wat vrywillig daagliks hul tyd opoffer om mense in nood te help.

“Ons wil ook dankie sê aan al ons R50-ondersteuners,” het me. De Lange gesê.

Sy het mense aangemoedig om ’n Helpende Hand-ondersteuner te raak wat maandeliks R50 skenk om armoede te verbreek, te verlig en te voorkom.

Sy het ook gesê dat bykans 1 500 vrywilligers dit vanjaar vir die takke moontlik gemaak het om 798 projekte ter waarde van R3,2-miljoen uit te voer.

Vir meer inligting oor die goeie werk wat die tak doen, of om betrokke te raak by die Bethal-tak, skakel me. Sanette Henning, voorsitter, by 082 300 4835.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button